PADLANGS-03-1
travel-centre-logo-01-300x204-1
  • HOME
  • STORIES
    • History
    • Geology
    • People
    • Towns / Cities
    • Flora & Fauna
  • CATEGORIES
    • A snapshot in time
    • Grave Matters
    • Pic of the week
    • Upcycling at its best
    • What's in a name?
    • Where on earth?
    • Bittersweet Karas Home
    • Echoes of the Aawambo
    • Afrikaans ons taal
  • BOOKS
  • ABOUT
  • CONTACT US
Hit enter to search or ESC to close

    Afrikaans ons taal

    Karmenaadjie na n goeie jaar

    By Gert Jacobie
    June 21, 2025
    Ons buitelandse besoekers wat knus in Gondwana se Namibia2Go-karre deur die land reis en saans in luukse in die Collection se herberge slaap, ervaar die grootsheid van die landskappe en die geheimenisse van die kultuur. Welkom, manne en maninne!
     
    Dan is daar die besoekers wat Namibia se aanbieding van jagbare trofee soek. Dis 'n uiters professionele besigheid wat statutêr oorsien word en groot geld die land laat inrol. Die plaasbase en "outfitters" staan jaarliks by Europese en Amerikaanse jagskoue rond en vang ryk kliënte met aanbiedinge wat die verbeelding aangryp. Die jagbare wild is toegedraai in eksotiese verhale van avontuur in Afrika, luukse akkommodasie, gerief, professionele aanbiedinge en versekering van etiese optrede. Die menu vir die besoekers is olifant, leeu, kameelperd, renoster, vlaktewild soos koedoe, gemsbok, vlakvark en jakkals en hulle maats. Skiet hom, proe sy vleis om 'n kampvuur, stop sy vel op, monteer die borsstuk teen jou jagkamermuur in 'n kasteel iewers in Europa en vertel van jou Afrika-avontuur met 'n glasie van die beste rooiwyn in die hand aan jou vrinne.
     
    Dan is daar biltongjagters... 'n eg Suider-Afrikaanse tradisionele ding. Dis deel van die Boer se DNA, soos om 'n paar keer in jou lewe 'n rugbytoets op Nuweland (deesdae die stadion naby Groenpunt in Kaapstad) of Loftus te gaan kyk. Mens moet die ganse prentjie sien om die waarde te besef (wat nie rêrig in Rand en sente bereken kan word nie).
     
    Dit is min of meer só; jagtogte word gelanseer soos vernietigende vuurpyle in oorloggeteisterde lande, want dit begin by 'n sameswering. Iewers om 'n braaivleis sê iemand: "Manne, ons moet hierdie jaar in Namibia gaan jag. Ek ken 'n vriend wat 'n vriend het wat biltongjagters toelaat." Op daai oomblik is dit asof jy nog 'n stukkie semelwors op die vuur pak en 'n vars rondte brannas en coke gooi. Die manne begin praat en beplan. Voor die brannas-bottel weer nader getrek word, word die selfone uitgepluk en word reëlings getref. In die aanloop na 'n finale besluit hou die manne sommer in die middel van 'n sin op praat as een van die vroue nader staan om te hoor of die vleis al gaar is, omdat die kinders honger is. Algaande kry die geraamte van die sameswering vleis om die bene.
    Tot só jagnaweek uiteidelik aanbreek en daar veel meer onttrekkings uit kredietkaarte gemaak is as wat die jagters voor beplan het. Dis nuwe uitrusting (kamoefleerpakke, kêppe, teleskope, ammunisie, karparte, kampyskaste en nog brannas en, en, en.)
     
    DIe standaard vertrektyd vir 'n Namibiese jagnaweek saam met die manne is Donderdag-oggend. Dit gee tyd vir 'n paar mengeldrankies op die pad, dalk 'n vlamworsie onder 'n kameeldoringboom iewers en 'n finale stop by Agra se brandstofstasie op die laaste dorp. Met geluk het so laaste dorp 'n plattelandse hotelletjie waar 'n laaste suip uit die trog in die beskawing gevat kan word.
    Op die jagplaas word ordelik gegroet en kleinpraat gemaak met die boer en sy vrou. Die slaapplekke in die ramkamp word uitgewys en so aan. Dan is dit verwelkomingsdrankies vir almal en kort voor lank is dit jagstories, politiek (dis belangrik om elkeen se siening te ken) en 'n algemene spogrondte. En brannas natuurlik.
     
    Vrydagoggend word gewere ingeskiet en veld toe gery. In die Suide kamp die boere hulle wild agter jakkalsproefheinings af en die boer weet hoeveel springbokke en gemsbokke in hulle kampe loop. Die opdragte is suiwer en die jagtog loop in twee sessies. 'n Oggendskof en 'n middagskof. Kwesbokke word gevolg en hanteer. Smiddae vat die jagters 'n ruskans onder 'n kameeldoringboom met tampanne onder hul voete en brannas in vuis vasgeknyp.
     
    In die Noorde is dit vinnigskiet deur die bosse of lankloop deur die veld, maar middagete is ook toebroodjies, gisteraand se koue braaivleis en brannas, met lang stories tussenin. Teen huistoegaantyd saans is die jagters gaar, sonder uitsondering en van die groot afwagting op 'n manstaan gefuif Vrydagaand kom gewoonlik dadels.
     
    Saterdag is tweede jagdag en die manskappe skiet net wat op die lysie nog leef. Dis eintlik teleurstellend en die jagters vra vroegdag al of daar nie rugby of krieket op die televisie is nie. Alles net 'n voorspel tot die brannasvloed wat laataand gaan afkom. Saterdagaand braai dit weer.
     
    Sondagoggend loop algar dikbek rond en betaal die laaste rekening, vra vrae oor die koste-uiteensettings en sluip een-een weg op die huisvaart met 'n vrag vleis. Om met 'n dik kop en 'n deurmekaar maag huis toe te ry, is nie vir sissies nie.
    Teen Sondag is alles op die jagplaas stil. Die werfhonde lê vetgevreet op hul rûe in die son en slaap, die huis se gordyne is toegetrek, die werkers is vort huis toe en gemsbokke se lang sterte waai weer perdevlieë weg op hulle pad na veilige waters toe.
    Vir twee weke na die jagtog spog die jagters nog oor amper raakskote en die koste van hulle uitrustings voor hulle weer saambraai en een voorstel daar moet gejag word, want dis boeresport op sy heel beste.
     
    Buitendien, die vrieskaste moet vol gehou word, want dis eintlik 'n skande op 'n Afrikanernaam as daar nie biltong, wors of wildsmaalvleis in die huis is om as 'n karmenaadjie vir 'n kuiergas saam te gee nie.
    All posts
    About Author
    Gert Jacobie

    You might also like
    Afrikaans se stryd
    Afrikaans se stryd
    June 21, 2025
    In jeansbroeke tot die dood
    In jeansbroeke tot die dood
    June 21, 2025
    SUBMIT YOUR COMMENT
    Padlangs_Cream_alt
    Our Sister Brands
    Copyright 2025. All Rights Reserved by Padlangs, Gondwana Collection Namibia