Dit was ook die maand in 1904 toe die Duitse Koloniale Magte onder Lothar von Trotha die Herero's by Waterberg (Ohamakari) finaal verslaan het en dit was die maand waarin die sogenaamde Bosoorlog in 1988 in Angola tot vrede gekom en gelei het Namibia se onafhanklikwording in 1990.
Maar vandag se storie gaan eerder oor die Afrikaanse taal en sy jare van strewe en styd. Uit die geskiedenis weet ons dat Afrikaans sedert kort na volksplanting in 1652 aan die Kaap begin ontwikkel het. Dit was die gebruikstaal wat uit Germaans en 'n hoop tale ontwikkel het aan die suidpunt van Afrika en dit het oor die Grootrivier (Oranjerivier) na vandag se Namibia gespoel.
Maar op 14 Augustus 1875 in 'n voorhuis van 'n Afrikaner-patriot is die Genootskap van Regte Afrikaners gestig. Die saad van Afrikaner patriotisme en nasionalisme is in die Paarl daar in die skaduwee van vandag se Afrikaanse Taalmonument uitgeplant om geil te groei. Net 'n jaar later het die groot kampvegter vir Afrikanerregte, Arnoldus Pannevis, sy kop instemmend geskud toe die Afrikaner-taalbulle voorstel 'n publikasie is nodig vir die skryf van Afrikaans. Toe word De Patriot 'n "courant" en elke skrywer, digter en storieman slaan sy/haar hand aan die pen.
Elke mens met 'n tarentaalveer en 'n pot poubloed het begin skryf en die lettere vertaal, Afrikaners gesing, gedig, gevloek en geskel in Afrikaans, maar die Bybel in Hollands gelees, want vir al die taalbeweging, wat soos 'n orkaan deur Suid-Afrika getrek het, was 'n Afrikaanse Standaard Bybel nog 'n toekomsdroom. Ná die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in die Kaapse Parlement in Mei 1925, was die Afrikaanse bybel steeds uitstaande... tot in Augustus 1933.
Intussen is al die stukke vertalings van die Bybel versamel en gestandardiseer en die bybelboeke en proefskriwwe is na 'n drukker in Brittanje gestuur. Uiteindelik is die eerste 10 000 Afrikaanse Bybels op die Carnavon Castle na Kaapstad gestuur. Die Afrikaanse Bybel van 1933 tot 1953 is op 27 Augustus 1933 in Bloemfontein aan die Afrikaners bekend gestel en sederdien is 7,6 miljoen eksemplare van daardie uitgawe agter Afrikaanssprekendes aan versprei. Baie daarvan het natuurlik in Namibia beland en dít is presies vandag se storie se naam.
Vir die groot Afrikaanssprekende gemeenskap wat toe reeds in Namibia was, was dit die begin van die onderwysstelsel, die aandgodsdiens op plase waar gesinne en werkers in kerslig bymekaar gekom het om te aanbid en 'n nypende tekort aan leesmateriaal op die platteland het van die eerste Afrikaanse Bybel van '33 'n kosbare kleinnood in elke huis gemaak.
Dalk was die 1933 Afrikaanse Bybel, die latere Psalm en Gesangeboek en ander Christelike lektuur die sterk Augustusgom wat Namibia in 'n nasiestaat help bind het.
Ek is oortuig van die bindende krag van die evangelie-boodskap uit 'n klein onbenullige gebeurtenis by Etunda naby Ruacana toe ek en Chrisna Greeff 'n skool op 'n kerkwerf gebou het. Biskop Josephat Shangula was ons skakelpersoon met die Evagelies Lutherse Kerk en een dag terwyl ons so oor die niks voor ons staan en uitstaar, maak ek 'n uitlating; "Landman, landman saai getrou..." en die oubaas sê toe sonder om 'n noot te mis "... waar ons nou nog niks sien staan, gee God goue graan."
Net daar het ek verstaan wat Afrikaans beteken!
SUBMIT YOUR COMMENT