Die week skryf Willie Olivier, 'n bydraer aan die gewilde Facebook-rubriekblad, Padlangs van Gondwana Collection, oor die ontstaan van Engela Sendingstasie en hospitaal net suidwes van Oshikango in die Oukwanyama stamgebied. Hy is 'n voorslag-navorser van die geskiedenis van die stamme en omgewing waar die Aawambo-mense woon. Soos ek die geskiedenis breedweg ken, was daar maar in die tyd van koning Mandume van die Uukwanyama taamlik strominge oor spesifiek sendingwerk in die gebied. Terwyl die Ndonga's, Uukwaludi's en ander meer geneë was om protestantse sendelinge in hul gebied toe te laat, was die groot stam, die Oukwanyama meer toeskietlik teenoor die Rooms Katolieke paters. Ek het al gelees dat protestantse sendelinge verjaag en straks vermoor is in Kwanyamaland, terwyl geen haar op die hoof van 'n Katolieke priester geskaad is nie. Uit eie ervaring tydens oorgrens-operasies tydens die bosoorlog weet party van ons waar ons op afgeleë plekke in daardie wyke van Owambo en Suid-Angola op kloosters en kerke afgekom het en die priesters in alle opregte geloof hul werk gedoen het.
Engela het volgens Willie Olivier se storie per ooreenkoms net ná die draai van die 20ste eeu as 'n kliniek en sendingstasie ontstaan waar hy vandag nog is. Die naam Engela val egter vreemd op die oor sedert ek die eerste keer daarvan bewus geword het. Willie se navorsing dui op die moontlilheid dat die naam ontleen is aan 'n graf van ene Engelbrecht wat as handelaar laat in die 1800's of met die draai van die vorige eeu daar rond gereis em gesterf het. Sy graf kan dalk nog daar gevind word. Dit was die plek waar die stigter van die sendingstasie sy penne kom inslaan het. Só doen die plaaslike inwoners met name en dinge wat vir hulle vreemd is... hulle maak afleidings en vernoem plekke.
Toe ek onlangs op Grootfontein was, het ek 'n denimbroek moes koop en gedink ek sal 'n verstelling daaraan moes maak. Toe soek ek 'n kleremaker. In een van die dorp se middedorp-strate kry ek toe presies waarna ek soek. 'n Ondernemende Wambo-sprekende vrou met 'n klerewinkeltjie met 'n ontvangsdame, drie naaimasjiene, 'n aantrekkamer en 'n vrou met 'n baba wat net binne die ingangsdeur lê en slaap.
Die gebou wat die onderneming huisves, is 'n tipiese mini-mall, met twee winkels waar Pakistani's elektroniese ware en selfoonbeskermers verkoop, trourokke vertoon word en haarvlegsels in koppe ingewerk word. Afrika in die middel van Grootfontein waar Otjiwanda Slaghuis destyds as die boerebastion was.
Die mini-sentrum se naam is nogal Iipatolona Mall. Miskien sal 'n bietjie Namlish hier van pas wees - die mini-mall is 'n soort inkubasiesentrum vir piepklein sake-ondernemings, tipies informeel en hoofsaaklik vrouegoete. Kam en vleg hare, maak rokke, herstel klere en skoene, verf naels en borsvoed kênners in 'n relatiewe veilige spasie. En wat beteken Iipatolona? Dit beteken patroon, soos in 'n rokpatroon. Kudo's vir die gebou-eienaar wat dit uitgedink het.
Inheemse tale het baie sulke name en woorde wat geskep is ná mense en goedere saam met Europiërs die land ingekom het. Van kruiwa af tot bicycle en vissersboot tot Golf GTi. Ek wil dit wat die stad se Damaraprekendes met hulle huispratery doen, nie eens begin verduidelik nie... dis amper soos die taal wat 'n Namakwalander praat as hy ernstig raak.
SUBMIT YOUR COMMENT