Daar was destyds nog 'n leë passasierswa of twee wat nag ná nag tussen Gobabis en Windhoek gesleep is waarop Tom my kon laai as die kort skoolvakansie verby is. Dié vakansie op Delville het ons bees getrek tussen Dalmuta naby Summerdown, na Delville, naby Witvlei. Ek was die trekvoorman te perd en te voet. My werk is beloon met die paar-pond-tien wat ek terstond by Kading se negosiewinkel op Witvlei op 'n "jeansbroek" en 'n pakkie 20 Lexington uitgegee het voor die nagreis Windhoek toe.
Ek is nou wyd oor 60 en ek dra steeds jeans. Ek hoor Steve Hofmyer sing die Country-liedjie "Amanda" en koer iets soos: ".... forty and still wearing jeans". Iewers sing Bob Dylon is 'n ballade oor cowboy-goete "... I'll put on new jeans (of dalk boots) and an earing of gold" wanneer hy en Magdelena voor die wet vlug.
Jeans, jeans, jeans... daai wonderlike blou broeke wat deur Levi's en Wrangler gemaak is meer as honderd-plus jaar gelede. Daai klere wat die klinknaels hat waar die some bymekaar kom sodat die stikwerk nie loskom nie. Broeke en bib-oorpakke wat regte egte werkers in die industrie gedra het omdat dit só lank diensbaar bly.
Vandag nog is 'n goeie paar jeans ('n klinknaelbroek) 'n onontbeerlike item in die klerekas. Solank dit Levi's of Wrangler is.
Het julle geweet; voor die tyd van blink polshorlosies het mense sakhorlosies gehad. Die klein koddige sakkie bo 'n jeansbroek se regterkantse broeksak was vir 'n sakhorlosie - dalk 'n Zobo of 'n Rotary - om tyd te hou. Werkende mense moet tyd hou in 'n ordelike gemeenskap.
Solank dit Levi's of Wrangler is... as die handelsmerk en die materiaal 150 jaar kon hou, vat ek maar nog enetjie op nog 150 jaar.
SUBMIT YOUR COMMENT