Tannie Malie is my stiefpa se ouer suster. Die klomp Kok- en Alberts-kinders uit ouma Dawn se skoot het op Bosrand (Kabare) groot geword, teen die grens van Hereroland-Oos. Dis is naby Koblenz, suid van Grootfontein waar die Omuramba Omambonde in Hereroland se kommunale gronde inloop.
Tóg is Malie, 'n lewenslange oujongnooi, se storie is besonders. Sy vertel my sy is nou 88 en sy was twee weke terug saam met die einste Gert koffiemaker en ander familie by die Victoria Falls. Sy was op 'n kuiertog op Ondangwa en sy was ‘annerdag’ hier en toe daar...
Ek vra na die terapeut wat nie opgedaag het nie en Malie vertel my sy doen werk vir die meisie en nog 'n ander een. Rekenaarwerk. Uiteindelik, vertel sy sommer uit haar eie die storie wat ek wou hoor:
Malie het in Suid-Afrika onderwys gaan studeer en toe vroeg in die sestiger-jare van die vorige eeu by die Windhoek Hoërskool begin skool hou. Destyds was die, baie bekende E.T. Meyer die skoolhoof met sy byna 1000 leerlinge. Malie se vakke was Rekeningkunde en Wiskunde, maar toe Meyer sê sy moet 'n Fisikaklas vat, was sy minder opgewonde. Buitendien het sy in die winter van '62 of '63 'n slag 'n sporttoer saam met skoolkinders na Keetmanshoop onderneem en verskriklik koud gekry en toe daar sprake ontstaan van 'n verplasing Keetmanshoop toe, toe kry sy 'n koue gevoel oor skoolhouery oor haar.
Sy het nie haar gevoelens weggesteek nie. Tydens 'n kuier saam met vriende uit haar studentedae een aand, is sy omgepraat om by die Windhoekse Munisipaliteit vir werk aansoek te doen. Daarmee was sy toe by die laboratium van die snel-ontwilkelende waterwerke-afdeling in diens was. Dit was juis net toe Windhoek so in die nuus was oor die watersuiweringstegniek om rioolwater as drinkwater te hergebruik. (Iewers in 'n ou Suidwester het ek 'n foto gesien waar die toemalige burgermeester van Windhoek 'n glas Windhoekse kraanwater wegsluk en oor dié eerste vir Afrika was die storie iets soos "nou dat die poep uit is, kan die water gedrink word". Die burgermeester was die legendariese Jaap Snyman, ook bekend as die oorspronklike "Wit Hings" van die Wanderers Sportklub.) Malie het haar beskeie rol gespeel en in die familiekring was die ongetroude meisie 'n held.
Toe tref die "Wanderlust" haar weer en sy skryf aan elke denkbare leweransier aan die Windhoek Waterwerke in Duitsland briewe om werk te soek oorkant die groot see. Bayer Leverkusen, die chemiese reus met wêreldwye belange, het reageer en sy het inderdaad vir hulle in die Duitse stad, Keulen, gaan werk. Daar het sy in 'n kamer met lopende water, maar geen badgeriewe geloseer. Sy vertel by haar werkplek, waar sy die enigste vrou was, het die mans vir haar 'n tydgleuf gegee waar sy elke dag haar lyf kon reinig.
'n Jaar later was Malie terug in haar geboorteland en het weer 'n werk by die Windhoekse Stadsraad gekry. Dié keer as rekenaaroperateur, want sy het intussen rekenaarkunde aan die Universiteit van Suid-Afrika bestudeer en Windhoek het 'n eerste rekenaar gekoop om sy personeelrekords en salarisstelsel te bestuur.
Die ou trekvoël tante van my het haar laaste werkjare by die destydse Akademie vir Tersiëre Onderwys (deesdae se Unam) in die departement rekenaarkunde deurgebring.
Nou, in haar skemerjare, reis sy so gereeld as wat sy kan, help jong professionele mense (soos die juppie terapeut wat nie opgedaag het nie, met hulle rekenaarswerk) en hou familie aan mekaar. Op die skryftafel langs haar oop skootrekenaar, lê 'n hoop begrafnisbriewe van familie-lede wat in die laaste jare dood is. Sonder uitsondering is hulle uit die geslag net voor haar, wat nog 'n direkte verbintenis gehad het met die Angola-boere wat in 1928 by Swartbooisdrif saam met haar ouers en dié se ouers 'n nuwe heenkome in Suidwes-Afrika kom soek het.
En Malie Alberts..? Van sy haar verstand gekry het op die plaas Bosrand langs die Omuramba Omambonde, het sy nuwe horisonne gaan soek en hulle inderdaad gevind. Solank sy die krag behou sal ek maar 'n afspraak moet maak as ek wil gaan gesels, want as 'n wiel draai, wil sy saam!
As ons weer sien, praat ons Angôla-stories. Daardie span wat in 1928 die land uit die Noorde ingeval het, het 'n besonderse bydrae gelewer en hulle spruite groei steeds. Trouens, die belegging wat die Administrasie in '28 in die Angôla's gemaak het, betaal 97 later steeds dividende.
SUBMIT YOUR COMMENT