Namibia se drie kusdorpe, Swakopmund, Wavisbaai en Hentiesbaai lê agter die woesynband wat die sentrale hoogland van die kus afsny.
Dit volg logies dat dié drie kusdorpe aan die mond van riviere in die dorsland ontstaan het waar vars water gevind kon word. In Walvisbaai was daar die bonus van 'n diep natuurlike hawe.

Nog 'n bate vir dié drie dorpe is die vister-moontlilhede van die magtige Atlantiese oseaan. Beide vir die pelagiese bron (nywerheidsvissery) en ontspannigvistery wat toeriste en binnelandse toeriste soos vlieë lok. Voeg daarby die reusetoerisme-potensiaal aan die Namibiese kus en dit word 'n resep vir die dis wat Namibia aan sy mense en besoekers opdis.
Dan vir 'n algemeen aanvaarde feit; Namibia is waarskynlik een van die droogste plekke op aarde, met die uitsondering van enkele streke wat jaarliks gereeld goeie reën ontvang. Die res word deur gereelde droogtes geteister, maar reën in die Namib - dis ongewoon en altyd 'n lus vir die oog.
Die groot riviere, soos die Kuiseb-, Swakop- en Omaruru-riviere ontspring in die sentrale hooglande en beur in baie goeie jare deur die na die magtige Atlantiese oseaan. Dis skouspelagtig en jaag binnelanders op die natuurspoor agterna om die wonderwerk te aanskou en dalk by te wees op die oomblik wanneer die eerste rivierwatertjies hulle vingers in die soutwater druk.

Die Swakoprivier dreig juis vanjaar weer om die see te bereik en trou aan die herkoms van sy naam, "tsoa xuab" - die Khoekoe woord vir anus en uitwerpsel wat ook aan die kusdorp op sy noorderwal verleen is, spoel die 450km-lange rivier alles wat hy langs sy vloeipad uit die weg gevee het, met hom saam see toe. Maar alles, van bome, takke, lyke, motorkarwrakke en vrot muishondvelle. Dit was mos die bekende navorser en skrywer van onder meer Die Buffel Struikel,wat sê as die droeë riviere van Namibia in vloed kom, is die drolle en takke voor, dan kom die kalm waters agterna.
Die Swakoprivier sukkel juis so om die see te bereik omdat hy, waar hy ontspring, eers die Swakoppoortdam in die Khomashoogland tot oorlopens toe moet volstoot en dan nog moet wag vir die versamelwaters van die Kahnrivier ver anderkant Usakos. Dan moet hy Goanikontes se spoelvallei deur tot by die hoewes duskant Swakopmund. Daar lê die geldwaarde van 'n woestynrivier. Met die ontwikkeling en gevolglike bouery op Swakopmund, Walvisbaai en selfs Hentiesbaai, het 'n rits konsessiehouers die reg gekry om sogenaamde sandmyne in die rivierloop te ontwikkel. Dié plekke voorsien bou- en pleistersand aan 'n massiewe boubedryf in die omgewing waar swaar masjiene, siwwe en karwei-afstand alles 'n rol speel in wingewendheid. As die rivier vir 'n dekade of meer nie afkom nie, raak die myne uitgeput en skuif verder van die mark af. Riviersand is uitgewas in sy pad na die see en nie so fyn en "dood" soos duinesand vir die boubedryf nie.
As die rivier in vloed kom, moet die water met goeie bou- en pleistersand in sy stroom die myngate vul voor die see bereik kan word. Daarom is dit 'n wonderwerk op sy eie... waar het jy 'n besigheid gesien wat sy voorraad uitverkoop en dan, oornag word sy store en pakhuise tot oorlopens toe uit die beloop van die lewe aangevul.
'n Wonderwerk voorwaar.
SUBMIT YOUR COMMENT