Namibia is gewoon te groot om by al die mooi plekke te wees as die reënseisoen sy prag vertoon. Buitendien is die seisoenale reën onvoorspelbaar en dis haas onmoontlik om in 'n Isuzu-bakkie te gaan wag vir 'n bui oor die Namib en dan mooi foto's te neem daarvan. Dis pure geluk waar mens op die regte plek en die regte tyd is.

Vir Namibiërs en besoekers aan die droeë dorsland is daar minstens die troos van moderne media. Vir die gelukkiges wat op die regte tyd op die regte plek is, is daar fotoverhale wat die kuberwêreld vol vlieg onmiddellik na só reënwonder opgemerk word.
Die nuutste album vol wonderfoto's is opgestel oor die vloei van Kuisebrivier van waar dit in klein stroompies in die Khomashochland ontspring en elke keer sy pad oopspoel na die delta net suid van Walvisbaai. Dis harde werk vir die Kuiseb om die see te haal, want elke mens en elke natuur-element doen sy bes om hom te keer. Water in Namibia is eenvoudig 'n te kosbare kommoditeit om so goedsmoeds in die Atlantiese oseaan te stort. Ek weet dié stelling is aanvegbaar, maar dis 'n ongerieflike waarheid in 'n ekosisteem só ingewikkeld soos die loop van die Kuiseb.
Om mee te begin is die Kuiseb 'n seisoenale rivier wat een of twee keer in 'n kort leeftyd maar die see haal. Ek kry bewyse dat dit in 2009/10 laas gebeur het. Vanjaar, as die geluk hou, kan dit straks weer gebeur. Foto's van waar hy vir die tweede keer hierdie seisoen sterk loop onder die Gaub-pas se brug is vollop en toer-operateur, Casper Vermaak, sê hy het hom onlangs by Gobabeb gekry. Dis egter nog 'n lang pad see toe, maar die slangspoor van die warerslag is agterlangs nat en glad en die pad vir nog water wat volg word makliker.

Dis die natuur by die Kuiseb-delta waar die moeilikheid kom. Waardeur moet die waterstroom als breek om in die see te loop? As die geomorfologie van die omgewing bekyk word, vorm 'n prentjie. Van Gobabeb af woon die Topnaars in die riviervallei en het die staat lankal reeds die akwafer vrot geboor om water te lei na die Walvisbaaise hawedorp en nedersettings langs die kronkelpad weswaarts. Dié moet algar vol wees vir die stormwaters om glad te gaan. Dan is daar nog dwarswalle wat die akwafer dien om seker te maak die water gaan eers af en as als tot oorlopens vol is, is die pad van Rooibank en sulke plekkies oop na die duine toe waar die volgende hekkies in die pad is. Deur lang jare het die duinegordel wat teen die Kuiseb se suidwal gestop het, sy perke oorgesteek en noordwaarts geskuif. Maar waar water opdam, soek hy sy pad na laer hoogtes. Soms verdwyn hy in die sandduine en sypel elders in die vlakwêreld uit. Die ontwikkeling rondom Walvisbaai, het ook 'n geo-gevolg. Die mens stoot maklik walle met groot kruiptrekkers en probeer die natuur na sy wil buig.
Tot tyd die mens inhaal en water sy geweld gebruik om sy wil af te dwing. Dan spoel hy die duine uit sy pad, gaan lê uitdagend in die soutpanne waar rykes huise bou, oorspoel met gemak die soutpanne weg en soek sy pad na die vleie in die omgewing van die Paaltjies of Grens waar die vet kabeljoue wei. Met nog bietjie aanmoediging van reën in die Khomas en straks die Namib bereik die Kuiseb se waters dan maklik Sandvishave. Dis in uiterse gevalle, want dan het strandmeer aan Walvisbaai lank reeds volgespoel en die huiseienaars hulle oë al droog gehuil oor hoë grondwatervlakke wat hul huise se fondasies verweer het.

Ou jare, in die 1960's toe ek die eerste keer vir ta'Ann de Jager van Ouma Dawn op Walvisbaai gaan kuier het, het die houthuisies, die laerskool en poskantoor daar op pale gestaan en dit was presies oor die Kuiseb-delta en die hawedorp mekaar daar ontmoet het.
SUBMIT YOUR COMMENT