Die groot verloorder is die Kieskommissie van Namibia wat nie eens 'n dronknes in 'n brouery kan organiseer nie.
Gelukkig is Namibiërs deur die bank weer hulleself ná hulle 'n dag in die son saam "gestruggle" het vir waaraan hulle glo - hulle reg om te stem en saam te praat. Eenheid in verskeidenheid. Maar hulle is kwaad vir die Kieskommissie oor Woensdag se stemreëlings en hulle wil geregtigheid hê, ná watter kant toe ookal!
Twee van Gondwana Collection se grootbase, Manni en Jaco, se reisverhaal oor 495km deur die Omaheke Woensdag, om 'n kruisie vir n staatshoof en 'n nuwe nasionale vergadering vir Namibia te trek, vertel inderwaarheid waaroor die land gaan.
Hulle was voordag by die Hosea Kutako Lughawe vir werk en wou daarna sommer by die lughawe stem ook. Daar het die stemry van agter af aan die voorpunt gegroei, met glimbaadjie-werkers wat hulleself as "essencial personnel" voorgehou het. Teen die tyd wat Jaco so rooi soos 'n pasgebraaide kreef in die warm son gebrand is en die skare wagtendes 'n slag deur versperrings na die heiligdom van die stemlokaal gebars het, het hulle 'n gevegswaardering gemaak. Die wagters agter hulle het minder geword en voorlangs het die ry 'n baard gegroei. Die gerugte loop toe dat die stembriewe minder as die mense is wat hulle kan sien en 'n skilpad hardloop kringe om dié wat stembus se kant toe beweeg.
Toe gee hulle op om te hoop op diens daar en ruil telefoonnommers uit met die nuwe vriende wat saam in die ry was, met die belofte om te bel as hulle iewers die pot stembriewe en spoed onder die reënboog verder oos vind.
Eerste terug Finkenstein toe, maar daar gaan dit bedroë. Vort Seeïs toe om die mobiele stemspan daar te kry, maar dié is opgepak en weier die dienste, want hulle pad lê gekarteer in 'n rigting suidoos iewers. By die Dorka stempunt het die kiesspan nooit aangekom tot nou toe nie. Dan is Omitara die antwoord, maar daar's ook niks... dalk die Otjivero-woonbuurt, maar die stembriefdraers is klaar weg en iewers kry hulle groot bottels bier teen 'n prys vir dors, want hierdie is 'n dorsland op 'n warm dag. Op die pad staan geverf "Life Goes On" en daar trek hulle Witvlei toe
'n Blitsige tel van mense en stembriewe bring hoop. Daar's 'n klomp bladsye in die stemboeke, die mense is min en die son sit nog hoog. Manni bel terug na waar hy Namibia2Go en Moonraker se personeel gelos het. "Kom, hier is plek op Witvlei.". Hulle stem klaar saam met 'n man met gladdeblink skoene en kouse met die Namibiese vlag op, wat sit langs een met verweerde sandale en hulle gesels te lekker met die twee wit manne oor die fiasko wat hom by die stembusse afspeel. Kleur is lankal kleurloos, maar ontevredenheid dra swart met 'n wit das en 'n wit Panama-hoed om die son weg te keer.
Die noodlot gil weer op die twee menere. Die personeelbus moet eers brandstof tap en Witvlei se papier raak op. Nou is die beter stempunt Dorka se rigting waar Marchel Lampbrecht met Braunveh boer, en waar daai eerste punt moes wees. Toe Jaco en Manni die eerste daar gery het, het hulle 'n man gevind met die goewerneur van die streek, mnr. Pyoo Nganate, se telefionnommer en hy het belowe om sy bes te doen, maar helaas. By Dorka was niks en hulle hoor die span het toe nooit opgedaag nie. Manni en Jaco sit die stukke in na die volgende kiespunt. Dis donker en die koedoes en gemsbokke kyk vir hulle.
Daar's nog 'n quort bier soos ons oudae gesê het en dié word gevat. Die manne druk toe deur na Okombuka van Japie Coetzee en daar word weer 'n gevegswaardering gedoen en die ridders van die grootpad vind dat die Gondwana en ander personeel net twee plekke te vêr agter in die ry sal moet staan om te stem. Manni beraad sy mense en hulle ry terug Windhoek toe. Die Kieskommissie het hulle in die steek gelaat, nie die vriendelike kiesspanne of amptenare nie. Damn it! Dis immers al 'n veertien ure dagreis.
Op Okombuka het hulle vir Freddie die kiesbeampte ontmoet en onmiddelik het die gesprek gevloei, maar Freddie kon nie veel doen behalwe om die kiesbeampte van die dag-prys te wen nie. Hy het ten spyte van die sware vrag op sy skouers kop gehou. Daar by Freddie is alles toe tot niks en Manni en Jaco sleep vir Windhoek en die personeel het nog geen kruis getrek nie. Gelukkig kondig die Kieskommissie toe nog 'n stemperiode aan en Manni kon die personeel nog 'n byt aan die soet vrugte van vryheid gee. Hulle het Vrydagmiddag uiteindelik klaar gestem, ná hulle 20 ure in rye gewag het.
Daar is steeds 'n debat aan die gang in die gange en op die paaie; Dit sal goed wees as die magsverdeling in Namibia in balans kom. Daar's ernstige sistemiese verval aan die gang van noord tot suid wat aangespreek moet word.
Dis seker waarom 'n mens in 'n ry sit by 'n stempunt tot jy na ander plekke soek om vry te wees. Waarom jy handveste van partye herlees terwyl jy wag, en wag, en wag... dan net voor jy 'n kruisie trek, jou keuse verander!
Dalk is die regeringswa te swaar vir ou osse om deur die drif te sleep. Kry nou maar daai vriendelike, gewillige mense soos Freddie en die wat in hulle duisende in rye gewag het om die swaarkrytaak met lekkerkry klaar te kry (met erkenning aan daai taalbul, Langenhoven).
Manni soek nou vir Freddie wat op Okombuka die kiesbeampte was, want dis 'n jongman wat 'n bul kan word tussen die trop waarin hy wei. (As hy dalk hier lees, of as iemand van hom weet, kontak ons asseblief.)
SUBMIT YOUR COMMENT