"My oupa, Ben van Zyl, se plaas Auchabis, is hier suidoos van Otjimbingwe geleë. Hy het altyd as die wind hier in die kom tussen die berge waai gesê; "...daar begin die verre winde weer."
"Ons drie seuns het die plaas geërf en ek het my deel Verrewinde genoem. My oupa was Ben van Zyl, destyds die Kommissaris van Kaokoland en die man wat die uitdagende Van Zylspas in 1965 tussen Orupembe en die Marienfluss gebou het.
"My ma is sy dogter Anna en my oom was Japie van Zyl, die Opuwo-seun wat 'n wêreldbekende ruimte-wetenskaplike geword het. Die boerseun wat van Opuwo tot in Houston bekend was tot sy voortydige dood," vertel Louis Carstens.
Hy en sy broers, Christo en Bennie was die seuns van Anna, ou Ben se dogter.
Die ander twee erfgename het hulle stukke grond Vredelus en Daskrans genoem en daar boer die drie broers op 'n ry.
Maar, eers terug na Otjimbingwe. Dit was darem van die eerste nedersettings op die ou roete en wapaaie van die vroeë handelaars en sendelinge die binneland in van die hawens by Swakopmund en Walvisbaai af. Die Hälbichs van Otjimbingwe was trouens ook van die eerste teikens in die 1904 Herero-opstande wat deur die hedendaagse Namibia gebrand het. Wat 'n tragiese stukkie geskiedenis wat vandag nog onopgelos is.
Dan is daar die Afrikaner-boere van die land. Doep Lambert wys daarop dat landmeters ná die Tweede Wêreldoorlog honderde plase heropgemeet het deur die land en self name aan die plase toegeken het wat eintlik weke ná hulle veldwerk eers by die Landmetergeneraal se kantore in Windhoek in die plaasregister aangeteken is. Natuurlik het die manne van destyds seker met 'n plan gewerk. Só is daar plase met name van die veldslae uit die oorlog, plase met name van gewilde bevelvoerders van die Geallieërde Magte, plase met name van Herero-herkoms, selfs plase in blokke nuut-onsluite gebiede wat erkenning gee aan mense soos ta'Issie Smuts vir haar werk en erkenning van die werk wat "our boys at the front" gedoen het.
Romantiese verwysings na geliefdes en vroue is so vollop soos name wat blydskap oor besitsreg beskryf en dan is daar plaasname wat geneem is uit die werke van die Afrikaanse taalbulle van die vroeë deel van die vorige eeu. Mense soos PJ Schoeman, Sangiro, CM van den Heever, Leipoldt en Eugenè Marais het gekompeteer om beskywende Afrikaanse woorde en begrippe te produseer.
Waarom sou Ben van Zyl van Kaokoland en sy mense nie lesers wees in Afrikaans se "hochzeit" en mooi name daar kon kry nie?
SUBMIT YOUR COMMENT