'n Namibiër is maar 'n swaarkry-mens. Selfs as daar niks is om oor te kla nie, dan kry hy iets om oor te kla, vertel Gerhard in die diep Kalahari my. En as ek sê diep, dan bedoel ek diep soos teen die grenspunt tussen Suid-Afrika, Namibia en Botswana, waar 'n mens na name soos Mier, Molopo en Kgalagadi op 'n landkaart soek. Ou Gerhard kla hierdie keer oor leeus uit die Kgalagadi Nasionale Park wat onwettig sy plaas betree en die Ministerie van die Omgewing, Toerisme en Bosbou wat nooit voertuie het om die satanskinders uit sy agterwerf te kom verjaag nie.
Ek sê ek ken boere wat wát sou gee om leeus op die plaas te hê. Gerhard sê ek moet sy nommer vir hulle gee dat hy hulle vertel, maar ons moet intussen maar Windhoek se oorskotreën aanstuur.

Ná die oproep dreun die donderweer bo my, die Jack Russel sterf amper aan 'n hartaanval en sosiale media wys prentjies van reën. Oor die leeus van die Kgalagadi en bandplase teen die Etosha Nasionale Park kan boeke geskryf word. Die getalle word meer weens goeie bewaringspraktyke in tye van vollop - tot só mate dat die wetenskaplikes desjares 'n slag voorbehoedmiddels teen 'n potensiële bevolkingsontploffing gespuit het - soos lokasiehondetewe se onstuitbare telery maar ook deur munisipale owerhede vasgevat word. In swaar tye tref peste en ellendes weer die Namibiese leeus en dis asof 'n grensboer meer verdraagsaam raak met dié spesies veerowers.
Tydens 'n besoek aan die Bwabwata-omgewing net ná Kersfees kom ons een oggend so ses kilometer noord van die Golden Highway en drie kilometer oos van die Divundu brug op 'n groep Mbukushu's en Kwê-mans af wat rondom 'n os staan. Die arme dier ly ten sterwensnood en ons vra wat aangaan. "Dis lou se werk..." vertel een. Uit die ter plaatse waarneming is dit duidelik dat die lou die os wou vang en in die proses sy blad afgeklap het. Ek verwonder my aan die krag van die ondier (of dan die koning van die oerwoud).
Die probleem met die rondloperleeu van die Bwabwata is natuurlik dat hy honger geraak het buite die parkgebied en 'n kommunale boer se bees wou vang. Voor die bees van sy lyding verlos en in 'n bosslagheis aan 'n boom kon hang, was daar eienaarsbelange en staatsadministrasie wat afgehandel moes word. Iemand moet betaal vir die skade en dit sal vir eers nie die leeu wees nie. As hy aangaan met sy stoutigheid, sal die stamraad en natuurbewaarders eers moet vergader om oor sy lot te besluit.

Intussen is daar 'n monitêre waarde in die rondloper se kwaadstokery. Uiteindelik is die slothoofstuk wanneer die oordeel kom. "Verklaar die leeu n ongewensde en bring 'n beroepsjagter... daar's in Namibia baie waar hy vandaan kom."
'n Plaaslike natuurbewaarder in die omgewing vertel ons toe later in die dag sy departement is bewus van die leeutrop wat in die gebied vorm aanneem en dat die nuwe trop fyn gemonitor word.
Stories oor leeus is baie. Reeds onlangs is een opgemerk wat oor die nasionale pad in die kommersiële boerderygebied gestap het net voor Oshivelo, oos van die Etosha Park. Die plase daarlangs dra reeds name soos Leeupan, Leeulaagte, Leeunes en Leeupoort. Dis vertel mos sy eie verhaal. Uit my eie kinderdae is leeustories en leeujagverhale vollop.
My pa het gereken oor leeujag word meer leuens as waarhede vertel en hy het nooit geweet het van 'n jagter wat kon bewys het dat hy 'n honderd leeus geskiet het nie. Die jagters kon van 99 leeus vertel, maar iemand anders sou altyd vertel van die honderdste leeu wat die jagter toe gevang het.
SUBMIT YOUR COMMENT