In die droeë seisoen van Namibia se Damaraland (wat soms jare duur) was die lewe nog nooit maklik nie. Trouens, dis 'n helse besigheid in die woesterny om net te oorleef.
Die skoonheid van die Voornamib van die suide tot bo in die noorde van Damaraland is onbeskryfbaar vir die beste woordwiggelaars, gewoon omdat Damaraland nie as 'n enkele entiteit verwoord kan word nie. In swaar tye trek Damaraland 'n baadjie aan wat die verhaal vertel van goeie tye byna vergete en op die gesig van swaarkry is tekens van prag en skoonheid vergange. In die beste tye kan die reisiger nie help om vasgevang te word in die lower van die mopaniewêreld, die soetgras en wuiwende grassade nie. Dis veral die Ugab-vallei en die kronkelgang van die ander riviere noord wat dan die aandag vashou.
Só het ek 'n jaar of tien gelede vir 'n paar jaar minstens een keer elke twee weke die pad tussen Swakopmund en Ruacana aangepak om 'n skool te bou vir die slim kinders in die omgewing van Etunda, die geboorteplek van die eerste president van Namibia, dr. Sam Nujoma.
Die pad vanaf Hentiesbaai deur Uis, Khorixas en Kamanjab tot in Hereroland-Wes noord van Werda-hek en Omakange het lank geraak en die mooi (of lelik) maar net verwysingspunte van vordering.
By die afdraaie van Ugab-brug en Sorris-Sorris of die Houmoed-plaas en ander plekke is ek al voorgekeer deur olifante of diep waters na goeie reën. In Damaraland ry jy selde in die reën en die storieboek van die land wat God óf vergeet het, óf in woede geskep het, vertel van silverriviere wat gekruis word terwyl jy weet die water kom vêr vandaan op die Ugab-terrasse of die berge van Fransefontein.
My weg na my skoolwerk het my baie lesse geleer... voertuie kry papwiele of raak onklaar as 'n geleentheid om iets te sien en te ervaar. Soos die opsigtelike misgrasie van vlaktewild in die droeë seisoen as die weiding wegsmelt onder kleinvee- en beeskloue en die olifante en woestynleeus alleen oorbly. Daar het ek ook gesien hoe die Damara's van die omgewing geleidelik verarm het sedert die dae van die Odendaal-hervestiging en die einde van karakoelboerdery (in die jare sestig en sewentigs) tot gewoon 'n oorlewingstryd en die jongmanne die berge ingevaar het op soek na minerale en mooi half-edelstene vir die onluikende toerismebedryf. Daarmee saam het kampeerterreine en lodges gekom as nuwe gelddrukmasjiene met verskillende langlewendheid.
Ek het baie mense op daai pad ontmoet, want soos alle reisigers stop mens iewers om water te vra op lang reise. By Katamuna en Joram. Die een karakter wat ek nooit die eer gehad het om te ontmoet nie, was tannie Elsie net so van die afraai na Sooris-Sorris af oos. Dalk was sy net te ver van my bedelroete af... want almal daar rond bedel die een of ander tyd 'n guns van 'n inwoner van die dorsland af.
Tannie Elsie, vertel Frank my, is al in die jare, maar sy het vroeg al ingesien dat Damara's daarrond in harmonie met die olifante sal moet saamleef as hulle die gegewes van Damaraland wil respekteer en tot voordeel wil gebruik en só het haar verhouding met die mense van EHRA, wat verhoudinge tussen mens en olifant bevorder, begin.
Hulle het waterpunt naby haar sinkhuis geskep en die ontwerp van die installasie het haar toegang na die waterpunt tot binne jaar sinkhuis gelei. Die volgende was 'n manstaan tuin en so het die tagtigjarige antie aangegaan in vrede met die olifante.
As die jongmanne uit die berge of sementoerwoud tuiskom by Tannie Elsie se paleis, steek sy hulle in die werk om klippe uit die plantplek te kry, te skoffel of nog 'n draad te span, 'n krip te herstel, of, of, of. Niemand eet verniet uit die opbrengs van haar geswoeg nie.
Nou se seisoen het die harde lewensplek van die ouvrou effe van balans afgegooi, vertel Frank my. Sterk winde het haar huis se dak afgewaai en sy het hom laat weet. Hy het die smart met EHRA gedeel en dié het vrywilligers gestuur om te kyk. Nou vertel hulle my haar prys vir jarelange getroue samewerking in die vredesoorlog met die olifante van Damaraland, is dat nuwe sinkplate en jongmens-arbeid aangebied word om haar skade te versag.
As ek weer daarlangs gaan, sal ek aandoen en vra vir 'n lekkie soetwater. Ek sal 'n pakkie nagosiegoed saamvat, soos mens in Damaraland doen en kyk hoe lyk haar huis dan. Dalk trek sy mooi Damararok aan dat ek 'n foto kan vang en dalk vertel sy my van toe sy in haar jongdae saam met oorle Hage Geingob skool gegaan het. Sy vertel glo sy en Hage het nooit weer gepraat sedert hy oorgeslaan het ma Engels nie. Hulle verstaantaal was Afrikaans.
SUBMIT YOUR COMMENT