Dis was Dinsdagoggend, 21 September 2020, op Walvisbaai en ek het nog geen antwoord op my navraag oor die wegholtrein die vorige Sondag uit die rangeerhawe op Walvisbaai gekry nie. Ek het navraag gedoen en die Nasionale Karweier het 'n antwoord belowe, maar niks het gebeur nie. Toe ry ek na die vervalle stasie op die hawedorp toe en ek gaan vra rond tussen 'n bot lot stasiewerkers wat amper met totale stomheid geslaan is. Die enigste kommentaar was; Geen kommentaar!
Dit was toe al bekend dat TransNamib se blou lokomotiewe het plek-plek deur die land stukkend en in onbruik gestaan en 'n rooi bruikhuur was een van die 110-ton reuse wat waens in die rangeerwerf moes rondsleep.
Dié ridder van die ysterbaan het blykbaar in die stasie losgebreek en op sy eie noordwaarts gerol en in die Swakopmundse middedorp loop omdop tot groot vermaak van die vakansiegangers op die buurdorp. Maar daar was nie 'n drywer in die sware lokomotief nie.
Dis so 40 of wat kilometer spoorlangs op n taamlike gelyk trajek sonder veel optes en aftes.
Die storie se naam is eintlik dat die massiewe stuk masjien sonder sy sleepsel trokke ook sonder n drywer was.
Die storie is dat hy wragtig nie sonder n lopende enjin die veertig kilometer sou kon rol nie. Die wind kon dalk n rol gespeel het, wat, as dit waar kon wees, die beste advertensie ooit sal wees vir Namibia om in die Walvisbaaise hawe, by die stasie in die ongebruikte rangeerwerf, die wêreld se grootste windplaas op te rig en groen waterstof vir uitvoerdoeleindes te produseer.
En dit moes n spooktrein wees. n Trein raak aan die loop terwyl hy staan en niemand pla nie en dan loop en val hy pens en wiele in die lug om veertig kilometer verder.
Die ander moontlikheid waaroor gespekuleer is, was dat die drywer so stadig stadig in die rangeerwerf gekruip het met die ou grote en iewers uitgespring het om n wissel oor te gooi of iets. Toe vang hy die lokomotief mis met die terugspring en daar vat hy (die lokomotief) die pad uit die stasie uit, om die draai Narraville toe, om Duin-7, verby Rand Rifles se systasietjie, deur die Swakoprivier-vallei, deur Kramersdorf en tot by die skerp swingel in die middedorp van Swakopmund.
TransNamib het nog nie gesê wat daar gebeur het nie. Miskien vertel hulle eendag die storie.
Omdat ek my kop breek oor wat daar gebeur het, het ek probeer navraag doen. Ek kry niks, behalwe die gewone; ons ondersoek die voorval en sal n verklaring uitreik.
Die gros van die werkende spoories wil nie praat nie, maar een het vertel dat die drywer Sondag n ent agter die lokomotief aan is, maar nie vinnig genoeg was om hom te vang nie. So hardlopery met inskop-kunsleerskoene op die nuwe balasklip onder die spoor werk nie.
Die lokomotief is n duur ding en onlangs op bruikhuur uit Suid-Afrika verkry. Blinkrooi nuut oorgedoen. Twintig miljoen Namibiese dollars werd.
Die drywer is toe glo terug stasiegebou toe om n kar te loop kry om die trein mee te jaag, maar dis ook nou nie dat die TransNamib-bakkies vol petrol op die peronne staan en wag op 'n Sondagoggend om n weghardlopende trein te gaan vang nie. Buitendien, die manne by TransNamib doen mos maar die dinge volgens die boek. Rekwisisie vir aanvraag van rit, bestuurslisensie of aangewese bestuurder en so aan.
Ek verneem die man het toe wiele gekry (ek hoor n taxi, maar kan nie bevestig nie). Toe die soekgeselskap wegspring was die loko al uit sig uit oor die padkruisings by die stasiehek, verby Pupkewitz se nuwe megawinkel en om die draai anderkant Cymot se verkeersligte aan waar die spoor onder die brug deurloop Kuisebmond en Narraville toe.
Toe krap die agternáspan Naraville se kruising toe, maar daar het hulle net die spoor van die loko gekry.
By die draai om Duin-7 weer net die spoor gesien.
Die manne gee toe teuels tot by die Swakopmund-afdraai, maar niks. Daai 100tonner is weg!
Die onderskepspan het glo die dienspad Rand Rifles toe al met die spoor langs gevolg en een slag van n hoogtetjie af n rokie in die verte sien uitslaan en die sweep ingelê, maar helaas, die loko het al by die Swakopvallei begin afdaal en spoed gevat.
Die spoelslote in die vallei het hulle weer gekeer en hulle moes terug na die oorbrug by die Husab-afrit, waar hulle teerpadlangs Swakop op die hoofroete moes inry. Daar het hulle gesien die lokomotief gooi sulke swart rokies teen die optetjie Kramersdorff toe uit voor hy dorp in is.
Die laaste oponthoud was die verkeerslig by Puma in die dorp waar hulle moes regs draai.
Toe sien hulle hom glo... op sy sy op die skerp draai in die swingel. Die wielietjies draai vry in die lug. Die diesel loop uit die groot tenk uit en die enjin stotter.
Ek hoor die verbygangers het saamgedrom. Die eerste mense daar het gekyk waar die drywer moontlik kan wees, maar daar was niks.
Iemand het gevra; "Hoe de hel?"
Die drywer het glo help soek na die drywer.
Dis waarskynlik dat die goeie uitvoerende hoof van TransNamib, Johnny Smith, hierdie voorval oorweeg het toe hy se bedanking ingedien het.
Ek het gebel en gevra: "Wanneer hou hierdie dinge op?" Sy antwoord was... "ek weet nie, Gert."
Johnnie Smith het TransNamib verlaat en is deur Des van Jaarsvled gevang om Namibia se spoordienste reguit te trek en vir lokomotiewe brieke en "Dead Men Switches" te koop. Maar hy was maar kort aan die stuur toe 'n lang trein by Oshivelle agteruit gespring en 100km terug gehardloop het Ondangua toe sonder 'n drywer.
Van daai spooktrein vertel ek volgende keer!
SUBMIT YOUR COMMENT