Vir die besoekers wat reeds op pad is na Namibia vanjaar, bespreek en kom. Ons ervaar 'n reënjaar soos lanklaas beleef en die water loop strome, riviere en damme vol.
Trouens, die seisoen word gekenmerk deur vol damme en lopende riviere waar jy kyk. Veral die groot droeë waterstrome wat van die sentrale hoogland af na die kus spoel, was vanjaar byna algar in vloed. Dis nou die Kuiseb-, Swakop-, Omaruru-, Ugab-riviere, die Uniab, die Huanib, die onstuimige Huarosib, selfs die Khumib en natuurlik die Kunene - wat vanjaar spesiaal kwaad is. Nou is die Oranjerivier ook besig om vol te raak na goeie reën die Vaaldam se sluise laat oopgaan het. Die Angolese hooglande daar ver waar ons eens op n tyd oorlog gemaak het, gee sy oes en die watervlakke by die Ruacana-valle is hoog en die Kavango styg steeds tot waar die rivier in die swamps inloop en ophoop.
Ons is droogmooi en natmooi en Namibia is toerismevriendelik op sy beste en slegste.

Dan is daar die Cuvelai-kom in wat Suid-Afrikaners wat hier gedien het, as Owamboland geken het. Dis nou die seisoenale vloed uit die Kunene wat, wanneer hy sy walle oorstroom, deur duisende iishana's vloei tot by die soutsee van die Etosha-panne. Rofweg noord na suid. Dié vloed bring visse en paddas in sy strome af en wanneer die eetgoed saam met die water kom, noem die Aawambo's dit die Efundja. Dis werklik iets om te aanskou en dis ongelukkig ook só dat die water skade aan landerye, huise, infrastruktuur en dienslewering aanrig. Trouens, dan word hulpverlening aan die bykans 1 miljoen inwoners van Owambo belangrik.
Dit is juis ontwikkeling in die digbevolkste dele van die land wat die koms van die Efundja en die beweging van die Cuvelai-waters - so wonderlik soos wat dit is - problematies maak. Waar baie mense woon moet paaie, klinieke, skole en staatsgeboue gebou word. Owamboland is 'n plat stuk aarde wat water laat opdam in die laagtes en wanneer paaie en spore gebou word, verg konstruksie beplanning, want water is 'n gelykmaker. En só is daar saam met goeie reën en vooruitgang altyd die probleem dat die reusevloedvlakte oorstromings tot gevolg sal hê. Die Cuvelai in vloed en koms van die Efundja bly egter 'n natuurveskynsel sonder gelyke.

'n Gevolg van die Cuvelai- oorstoming is ook die aanvul van die Ohangwena 1 en 2 akwafers net oos van Eenhana wat diep waters ontsluit en volgens navorsers 'n miljoen mense tot 400 jaar van gebruikswaters kan voorsien. Dié bron is nog grootliks in onbruik en daar moet 400m en meer geboor word om die hart van die bron te ontbloot.
Die tyd van die jaar is die tyd om die sentraalnoorde te verken en 'n goeie vertrekpunt is die luukse lodge van Gondwana Collection by die King Nehale-hek net noord van die panne.
.jpg?width=600&height=299&name=490743419_1061865435964164_8606888025190501798_n%20(1).jpg)
Daarvandaan lê die pad oop vir 'n besoeker deur die pannetjiesveld van die Andoni-vlakte op goeie paaie na die Ruacana-valle en dan is dit links of regs na óf Kaokoland óf Kavangoland. Als 'n reis van twee dae na die naaste ander lodge van Gondwana by of Rundu (Hakusembe River Lodge) in die Kavango of die Gondwana Omarunga Epupa-Falls Lodge in die Kaokoland. Daar's slaapplekke langs die pad daarheen.
Ry gerus deur die Sentraal-noorde vanjaar voor die nat seisoen verby gaan. Dis Afrika en sy natuurwonders op sy beste.
SUBMIT YOUR COMMENT