Begin my storie vandag by die rinderpes van 1897 en 'n gepaardgaande droogte wat die merg uit die gebeentes van alles wat leef getap het.
Kort daarna volg die Herero- en Nama-oorloë van 1904 en minder as tien jaar later die Eerste Wêreldoorlog in 1914 wat in 1919 dramaties afsluit toe die Spaanse Griep deur die land trek.
Nog tien jaar later is dit weer droogtetyd in die land met die baie name deur sy geskiedenis. William Coates Palgrave het die plek tussen die twee woestyne as Groot Namakwaland en Damaraland gekarteer. Later was dit Duits-Suidwes-Afrika en toe Suidwes-Afrika. Deesdae is dit Namibia.
Maar 1928/29 se droogte het nie alleen gekom in die pragtige land wat God skynbaar in woede geskep het nie. Dit was ook die jaar toe die Wallstreet Beurs in Amerika ineengestort het en die depressiejare wêreldwyd begin het. Armoede en droogte, vee wat vrek in die veld lê, onvoldoende infrastuktuur en swak ekonomiese tye was nie genoeg om die wordende Namibiese nasiestaat te stuit nie.
In 1928 en 1929 het die diamantprys gedaal en De Beers het sy Kolmanskop-myn gesluit. Vleis- en botter-pryse het 'n laagtepunt bereik en die Suid-Afrikaanse vleismark was tot niet. Dit het werklik sleg gegaan. Op 'n manier, sê die Administrateur van Suidwes-Afrika, mnr. Albertus Werth in sy verslag aan die Suid-Afrikaanse parlement, kon die boeke nog gebalanseer word. Die inkomste uit karakoelpelse, koper, tin, zink en vis kon die wiele aan die rol hou.
Die spook van die depressiejare se stert was lááánk! Die Angola trekboere wat by Swartbooisdrif oor die Kunene-rivier gekom het, moes hervestig word in die omgewings van Kamanjab, Outjo, Tsumeb, Grootfontein, Otjiwarongo en Gobabis. Van die 666 wat oor die rivier gekom het, het 240 gesinne gekwalifiseer om op plase gevestig te word. Die meeste van die res is in die werksmag opgeneem, net om slagoffers van die depressie-ekonomie te word. Daarvoor het die Suidwes-Administrasie £50 000 geleen om onder meer boorgate te sink op die plase wat opgemeet is en aan die boere uit Angola toegeken is. Teen 1930 was die taak afgehandel en die boormasjiene is hoofsaaklik afgetakel, en sowat 60 blankes is werkloos gelaat. Dít het meegehelp om blanke werkloosheid te vererger ná die verlies aan geleenthede by De Beers se myne rondom Lüderitz. Ironies genoeg, die inboorlinge wat destyds al migrasiewerkers was, het gemaklik met werk geholpe geraak.
Dan bedink die owerhede hulle plan om die sorge van werklose blankes in Suidwes-Afrika aan te spreek. Twee belangrike projekte word van stapel laat loop. Blankes word gebruik om met hande-arbeid damme te bou by Otjinenne (naby Otjiwarongo) en Avis, knap oos van Windhoek. Otjinenne was bedoel om besproeiingswater te bied aan hoewes waar intensief met groente en ander gesaaides te boer, maar die projek het nie juis dividende gelewer nie, anders as hartroerende oorvertellings van swaarkry en armoede. Die gewese Namibiese politikus, Dirk Mudge, het vertel dat sy oupa, Dickie, mobiele koelkamers gebou en gesmous het sodat werkers hulle vleis vars kon hou. Dis nou koelkamertjies van hout, met kuikendraad en houskool wat kos (slagveekarkasse) koud moes hou. Wikipedia sê die dam se uitsluitlike doel was om as keerwal te dien om die ondergrondse waterbron uit die Omatjenne-rivier aan te vul in goeie reëntye. Dit was baie later ook die beginsel wat moes geld toe die Omaruru-Delta aquafer naby Hentiesbaai ontwikkel is en 'n vrye afleiding is dat dieselfe beginsel geld ten opsigte van byna elke oop plaasdam wat ooit op 'n plaas in Namibia gemaak is.
Die loon was laag en die son was warm, maar die ondernemerskap van 'n mens op boerderygrond is oneindig. Selde of hy dit vir 'n oorsiener of vir homself doen. Aan die einde van die dag is die prestasie gewoon oorlewing en die basis vir vooruitgang van komende geslagte.
SUBMIT YOUR COMMENT