As daar 'n goud-stormloop is, sorg dat jy in die besigheid is waar jy pikke en grawe kan verkoop, het Mark Twaine, die Amerikaanse skrywer van Tom Sawyer en Huckelberry Finn, gesê.
DIs darem n waar filosofie, as mens so deur die geskiedenis van die Namibiese sake-ikone, Sam Cohen, Harold Pupkewitz, Werner List en ander blaai.
Namibië se vroegste aangetekende (moderne) geskiedenis is gekenmerk deur die wedervaringe van jagter/handelaars, smouse, die guanohandel, die ontdekking van koper, diamante, die vissery-bedryf en die hedendaagse grotes soos uraan, lithium en die sogenaamde skaars - of strategiese - minerale.
Sedert die tyd wat die eerste geskoeide voet egter 'n spoor op Namibiese grondgebied getrap het, was hierdie land die oesakker van ontginners van die bodem eerder as vervaardigers. Soos met alle "ondekkings" was die bymekaarmaak van rykdom aan die begin en die transport na markte nog altyd die belangrikste. Plaaslike verwerking en veredeling wat binnelandse ekonomiese groei in die hand moes werk, was eenvoudig nie winsgewend nie. Dis nou nog so en daarom sukkel Namibia steeds om werklik te industrialiseer.
Deur die jare was daar uitsonderings: Sam Cohen was maar een voorbeeld van 'n plaaslike industrialis. Hy het in die jare vyftig al 'n motoraanleg in Windhoek se hoofstraat bedryf en melkprodukte voorsien wat na die buiteland uitgevoer kon word. Werner List van die Olthaver en List-groep het die meer as bekende Namibiese bier die wêreld vol uitgevoer. Waar goeie ondernemerskap, staatkundige ontwikkeling en korporatiewe besigheid egter in 'n stroom begin saamloop, vervaag die werke van legendes se hande dikwels tot brons kopbeelde teen geboumure, geboue met name op en vergeelde bladsye in biblioteke wat selde meer opgemerk word.
Namibië, met sy jong superhero-status in ondernemerskap, politieke deurbrake, sportpresasies en vreedsame naasbestaan, se bydra tot die gemenebes van nasies is nog nie naastenby aangeteken nie en die stories van ou Ysters is nie eens almal vertel nie.
Amerikaners het grootliks die kuns vervolmaak om hulle eie geskiedenis oor en oor te vertel as voorbeeld van hoe nasiestate ontstaan deur bloed, sweet en trane. Namibia se storie bly grootliks onbekend en ten spyte van baie geskrifte en bronne, het die storiekuns (feitelik korrekheid moenie hierdie kuns verweer nie en dit ook nie tot blote snert afmaak nie) nog nie sy potensiaal in die saamsmee van Namibiërs bereik nie.
SUBMIT YOUR COMMENT