Joernalistiek as 'n beroep het baie verander deur die jare. Toe ek in 1979 sonder 'n naskoolse kwalifikasie betrokke geraak het, het 'n redakteur in die ou Suidwes-Afrika jou gevra om 'n Afrikaanse opstel te skryf, hy het jou 'n paar algemene kennis-vrae gevra en hy het gevra of jy 'n motorkar kan ry... dan het hy gevra wanneer jy kan begin werk.
Salaris was nie 'n kwessie nie, want die ZAR 270 per maand wat ek vir die destydse Die Suidwester werd was, was gegiet in steen en volgens die redakteur 'n daad van goedheid en welwillendheid. Ek kon gelukkig 'n maatskappy-woonstel betrek teen ZAR 17 per maand wat direk van my salaris verhaal is.
Koerantverslaggewing vir 'n oggendkoerant was 'n saak van gebed. Jong verslaggewers het van doodsberigte af, skolesportverslae, skandale, moord, bedrog, landboukonferensies, treinongelukke en Nat/SAP-politiek geskryf en oorgeskryf tot die redakteur tevrede was of die kopie sonder seremonie in die snippermandjie beland het.
As jong verslaggewer het ek altyd die "scoop" gejaag wat my naam in die anale van die bedryf sou verewig. Dit is maar die jaag van 'n droom, want gister se goeie stories word vandag se geskiedenis en soos die vensters wat tydrame aandui verbyskuif, raak daai geskrewe stukke net vergeelde papier op biblioteekrakke wat die lig sien as 'n navorser inligting oor 'n vergange tyd soek.
Des Erasmus (RIV) het lankal gesê elke jeornalis het 'n boek wat geskyf moet word in sy hart en môre se koerant op die skryftafel voor hom. Verder is daar niks... "loop skryf daai stories, want die spertyd kom nader. Ek wil klaarmaak."
Koerante het destyds inkomste genereer uit straat- en winkelverkope, vertoon- en geklassifiseerde advertensies, kennisgewings en finansiële state wat volgens wet deur openbare maatskappye gepubliseer moes word. Vir die koerantbesigheid was die vertoonadvertensies die oestyd. Aanvanklik was dit sigateradvertensies, koffie, elektriese ware en motorkarre wat gesog was, want dit het luuksheid en sukses uitgebeeld. Die advertensies was wel in swart en wit gedruk, want kleurdrukprosesse was byna nooit in registrasie nie en die twee rolperse wat in Namibia beskikbaar was, was gewoon al dertig-plus jaar oud in die 1970's en 1980's. Dis was tegnies 'n saak van onmoontlikheid. Kleur-drukstukke is in alle grotes was destyds op vlakdruk-masjiene gedoen en het as invoegsels deel van koerante geword. Groot hoeveelhede pamflette is op treine die land ingebring.
Mens moet die uitdagings van die drukproses van daardie jare en die tyd voor dit verstaan om te weet dat net verslaggewers met koerantink in hulle are dit ooit sou maak as redakteurs en veterane in die bedryf. Dit was vir die ander met die titel "joernalis" agter sy/haar naam net 'n suiping op hulle pad deur die ou Suidwes. 'n Klein handjie vol mense het binne die koerantbesigheid geleef en oud geword. Min mense het die verandering van media intensief ervaar.
Dis 'n storie van verandering en aanpassing oor jare wat in intensiteit toeneem het tot waar dit vandag is. Deesdae is dit rekenaar tot druk-stelsels. Daar bestaan nie meer kleurskeidings nie, want 'n rekenaar doen dit in minder as sekondes. Die drukmasjiene is uiters modern en die afvalpapier wat voorloop voor die Goss-drukmasjien in registrasie druk, is byna niks. Daar staan nie meer 'n drukker met 'n besmeerde oorpak langs die drukmasjien nie. Die drukker kom werk met 'n das en baadjie.
Die joernalis/verslaggewer ry nie meer agter 'n storie aan nie, sy grootste uitdaging is om 'n mens te kry wat vir hom selfoon-videos of foto's kan stuur van 'n gebeurtenis. Die storie is 'n stemgreep op Whatsapp en niemand vra vrae nie, want die onmiddellikheid van media gee 'n ewe onmiddellikke geleentheid om die nuus aan te vul.
Al wat oorgebly het van koerantwerk soos ons generasie dit geken het, is die herinnering aan die dae van weleer. Die hartseer daarvan is dat die veterane van die bedryf aan die uitsterf is en die doodsboodskap bereik mede-veterane per SMS, Facebook of op 'n Whatsapp-groep waar 'n skakel gedeel word om betrokkenes te nooi na 'n vieringsdiens van 'n goeie, geharde, ervare "koerantman" wat eens op 'n tyd geryloop het na 'n goeie storie, saam met oorlewendes van 'n ramp gehuil het, of só passievol was oor die eerste reën ná 'n lang droogte dat hy met 'n babelaas by die dankdiens daarna opgedaag het en 'n verslag oor die inhoud van sy eie gebed geskryf het.
Wat 'n era om na terug te dink en die koerantmense van daardie tyd wat oor is op my een hand se vingers te tel.
SUBMIT YOUR COMMENT