Tannie Alet (Joubert) de Roubaix was in 1950 'n tienermeisie op Tsumeb en haar pa, Hermaans, was die voorman by die Tsumeb Corporation Limited se plantasie nét 200m oos van die Otjikoto-meer, toe die natuurwonder teen hulle grootwordhuis 'n slag so vol gereën het dat dit letterlik oorgeloop het. Die Otjikoto-meer is sowat 20km noord van Tsumeb en 'n skrale 30km verder lê haar sustersmeer, Guinas, waaruit ruim besproei word op die kalk- en turfgrond van die dorpsomgewing.

Verslae en foto's van die jare sewentig wys weer 'n oorloop-vol Otjikoto-meer. Ouer mense wat die omgewing ken, vertel van tye toe die meer voller of die watervlak laag was. Baie sê hulle het daarlangs gewoon en gewerk, maar die meer nooit so vol gesien nie.
Dat dit 'n eenkeer in 'n leeftyd-ervaring is om die Otjikoto-meer só vol te sien, is 'n feit en dit moet nou deel van enige reisiger tussen die Noorde en die res van die land se reisprogram word. Aanstons sak die water weer na sy normale vlak.
Die meer is maar een van twee natuurlike mere wat in die Noorde en Karstveld voorkom waar mere duisende jare gelede ontstaan het waar die kalkagtige dak op ondergrondse watermasses ineengestort het. Ondanks baie bespiegeling en selfs feitelikhede oor die algemene beweging van die ondergrondse water, bly n vol Otjikoto 'n gesig om te ervaar.
Die Joubert-gesin het as plantasie-meesters saam met 'n sterk werkspan by Otjikoto gewoon en gewerk. Destyds is die aangeplante bome by die plaaskike saagmeule tot stutte verwerk en in die tonnels onder die De Wet-skag in die middel van die myndorp, gebruik. Die afvalhout is by die myners wat op die dorp gewoon het se huise afgelaai wat in "donkies" vure moes voer vir warm water in die huis.
Tannie Alet, nou 'n 83-jarige in 'n oumenshuisie op Okahandja, sê die foto van 'n vol Otjikoto is in 1954 geneem soos sy onthou. Daar is egter foto's wat 1950 gedateer vir my aangestuur. Volgens oorlewering was die meer rondom 1978 ook so vol, maar ek kan nie foto's daarvan as bewyse in die hande kry nie.

Die afgelope naweek het Deon van Blerk van Grootfontein by Otjikoto gedraai en mooi foto's aangestuur van die inloop. Facebook het 'n foto opgelewer van die watervlak in die Guinas-meer en daarmee beweringe die nek ingeslaan dat die twee mere direk ondergronds verbind is, omdat Guinas se vlak taamlik normaal is en die oorloop van Otjikoto dus te wyte moet wees aan lokale oorvloedige reën (my inligting is dat plaaslike reënmeters al soveel as 1000mm kon meet).
Verder noord het Deon ook 'n foto van die inloop van die Omuramba Owambo geneem wat Fisher's Pan in die Etosha-panne voer. Dit beteken 'n besonderse reënjaar vir die Sentraal-Noorde!
Die waterryke Tsumeb/Grootfontein/Otavi-omgewing is lank reeds bekend as Namibia se kopermyn-provisie, waar ook 'n magdom ander minerale deur die jare ge-oes is. Die eerste Europeërs wat die mineralerykdom van die gebied besef het, het dit omstreeks 1851 al in geskrifte beskryf. Plaaslike inwoners het toe reeds lankal koper gesmelt en verhandel. In 1904 het die kopermyn op die dorp 'n werklikheid geword en die eerste koper is met 'n ossewa na Walvisbaai geneem, waarvandaan dit na Europa uitgevoer is.

Otjikoto sal ook deur lesers van die geskiedenis onthou word as die meer waar soldate van die Duitse Imperialistiese Regering (Schutztruppe) hulle kanonne en ammunusie ingegooi het toe Uniemagte van Suid-Afrika hulle uiteindelik oorrompel het tydens die Eerste Wêreldoorlog in 1915. Naie van die wapentuig is herwin en word in die museum op Tsumeb vertoon.
SUBMIT YOUR COMMENT