Ver-ver van hier drink die manne Namibiese-bier, sê my viend en Afrikaanse skrywer, Louis J. Bothma, altyd vir my. In my sit en skrywe klink ek een op my vriende vandag en verlang na Namibië.
Ek is vir 'n paar dae op besoek aan die Noordwes-provinsie van Suid-Afrika en hier staan die aangeplante weiding onder 140ha spilpunte gereed om verwerk te word tot keilvoer heuphoog. Die 30 000 bees in rye en rye voerkrale is vet. Só anders as in my heimat.
Dis natuurlik dat mens vergelyk, meet en oordeel, maar dis 'n onregverdige realiteit. Suid-Afrika is nie Namibië nie. Die klimaat verskil, die mense verskil en waardes is anders.
Oom Lourie van Reenen van die Beefmaster-groep en sy vrou, tannie Ria, is my gasheer en -vrou. Skitterende mense van inbors en vriendelikheid. En hulle spog regtens met 'n leeftyd se werk wat beïndruk.
Die Vaalrivier swel hier in die Christiana-omgewing teen sy walle en in die lug bou die wolke torings oor die ou Wes-Transvaal wat laat smiddae kortemaal reëngordyne bo-oor ons, of links en regs verbytrek.
Dis aangenaam.
Soos altyd hunker my gedagtes kortemaal na my eie land waar die eerste reën van die seisoen nou al gesig gewys het en waar ons binnekort onder moeilike omstandighede by die stembus gaan aantree. Oor die politiek kibbel algaar, maar oor die droogte by die huis is almal dit eens... dis 'n moeilike een daai. Van hier af sien ek die verskil. Terwyl die Noordwes se speenkallers op Beefmaster se agterveldkampies met groenvoer in die bek staan, wonder Namibiese boere hoe lank hulle nog kan uithou.
Die kontras is onbeskryflik!
Oom Louw is ook nie 'n vreemdeling in Namibië nie. Hy en sy beesspekulante het deur die jare al duisende jongbees in Namibia opgekoop vir die Van Reenen-landgoed. Ons gesels lekker oor die raakpunte weerskante van die Oranje en lag oor ervarings. Oom Lourie kom lank aan.
Nou dat ek ook ouer is, kom ek onder die indruk dat my wortels te diep in die Namibiese grond ingegroei het. Ek sien die maklikste weg na my persoonlike geluk is oor die stofpaaie en vlaktes van my eie hartsland. Ek sal gouer as later terugkeer na mý mense toe. Dis mos waar ek hoort.
In die groet vra ek vir oom Lourie wat van die toekoms. Hy huiwer nie met sy antwoord nie: "Dit sal wel wees. Daar by julle sal dit weer reën. Hier sal dit aangaan. Die jonges sal hul weg vind. Nee wat... ek is nie te bekommerd nie, want die mens vind maar altyd 'n pad deur die donkerte."
SUBMIT YOUR COMMENT