Ek en Gideon Wessels ry tussen Christiana en Kimberley toe hy sê hy wil vir my die "diggings" wys en ek grinnik. Gideon wys my al "diggings" van Christiana af sover as wat mens ry. Oral lê klipstapels en blou diamantgruis en ek glo al daar is nie 'n vierkant meter waar iemand nog nie vir 'n diamant gegrawe het sedert Alfred Beit en Cecil John Rhodes in die Noord-Kaap aangekom en vir Adam Waterboer verneuk het nie.
Langs die pad doem 'n padpredikant op wat lees; Windsorton. Ons draai links en al wat ek sien is hope blou klip, uitmekaar Caterpillar masjiene en reusesiwwe wat rondstaan. Waar eens 'n dorpie op die rivieroewer was, is diep gate gegrawe en twee of drie huise wat nog staan, se groot werwe is ook uitgegrawe. Hier is ernstig gedelf dink ek by myself.
Gideon verduidelik vir my die koorsagtige gesoek na diamante volg 'n pad deur die Noordwes-provinsie en Noordkaap langs ou stroomweë wat deur millinia verlê het waarlangs diamantdraende Kimberliet uit die hooglande van Lesotho gedra is. Ek verstaan nie die geologie so lekker nie, maar dit maak alles sin. Diamante vorm in die diep aardkors, spoel uit die hooglande langs die Vaalrivier af in die Oranje en see toe, waar die seestroom hulle noord vat. In die 1880's sak delwers op die diamandvelde toe en krap die aarde om agter die rykdom aan. Die skattejagters volg die spoor tot by Kolmanskop en Lüderitz en violá, daar is die Namibiese diamandbedryf as groot bydraer tot Namibia se staatskas.
Dan kry ons Oranjemund en Kolmanskop waar die aasvoëls die vleis van die gebeendere skoongepik het en so aan. Maar, in die ou lope van die Vaal en Oranje soek skattejagters nog juwele wat hulle deur die jare gemis het en van grawe en pikke op "diggings" het die eelthande na Caterpillars gevorder.
Op Windsorton het die koors hoog geloop in die 1990's en amper elke huis en kêffie se agterplaas het in die laaste veertig jaar 'n digging geword. Natuurlike evolusionêre verandering is net gestuit deur institusionele blokkades op Windsorton waar 'n kerk, 'n polisiestasie en 'n afgebrande dorpsaal en munisipale geboue tussen 'n handvol mooi huise en 'n leë winkel bly staan het. Windsorton Mall staan ook ongeskonde maar dis 'n verskoning wat gebou is op herwinde "diggings" waar rehabilitasie gedoen is. Die onderdorp se erwe is skoongesoek na diamante.
Gideon is self 'n man wat sy hande in die grond gesteek het. Hy het ook maar geglo aan die kroeggesegde; "Gesondheid in die rondheid - druk jou hand in die grond en pluk 'n groot diamant uit."
Die delwers van ouds het nie almal groot geld gemaak nie, maar die hoop beskaam nooit. Nie op Windsorton of tussen die spookgeboue van Kolmanskop nie.
SUBMIT YOUR COMMENT