Evert Burger is die laaste suiwer beesboer teen die Etosha-grens voor die Anderson-hek. Sy plaas is links, net een hervestigingsplaas voor jy die hek moet deurgaan. Daar's gereeld leeus en hyïnas wat sy bees en kalwers jag.
Hy vertel my daar het op 'n dag 'n jong vlaktezebra-hings by een van sy beestroppe aangekom en dié het sommer 'n voorslag-beeswagter geword. "Ek het hom nie mak gemaak of hom geleer nie. Hy is nie aangestel of gevra nie."
Evert sê die zebra-hings is deur ouer hingste uit die trop geskop en hy het toe begin dink hy is 'n bees. Daar is intendeel nou drie zebra's by sy beeste, maar dis nie goed nie. Een so zebra in 'n trop bees is genoeg. Hy vertel ook dat die zebra's die bees waarsku as hulle leeus ruik en dan lei hulle die bees weg en as daar ander roofdiere is, raak die zebra aggressief en jaag selfs die ongediertes weg.
"Ek het my beestrop geskuif na noodweiding toe, en die zebra-hings het geskei geraak van die trop af. So tien kilometer verder hoor ons 'n helse lawaai, toe kom die zebra deur die bos gebreek om by die bees te wees," vertel hy my.
Die gesprek het by Frank Bockmuhl begin wat vir my vertel het van die muil wat hy gekoop het vir die veewagter wat in die berge op Tsuwandes agter die beeste en bokke moet gaan waar sy Landrover selfs onwillig raak. Frank is 'n baie natuurbewuste boer wat versigtig met die veld op sy plaas omgaan, altyd regeneratiewe praktyke volg en nooit 'n druppel olie in die sensitiewe weivelde van die Noordweste sal mors nie.
Nou sê hy, het die muil take op die plaas begin oorneem, soos om te help beeste en bokke aankeer en hulle kraal toe te jaag. Hy het met die muil se maniere op die geselsgroep vir boere gespog toe Evert laat weet het van sy vlaktezebra's.
My gesels met die twee bring my toe op die spoor van Tommy Hall, die befaamde natuurbewaarder wat deesdae perde en rygoed vir die Ministerie van Toerisme en Bosbou (MITF) oplei. Dié diere word in parke en bewaringsgebiede deur natuurbewaringspersoneel gebruik vir ondermeer die monitering van Namibia se waardevolle swart- en witrenosters.
Tommy vertel dat die muile in sy skool baie goed vaar en fyner ingestel is op byvoorbeeld die reuke en geure van die renosters wat hulle volg. Die diere is uiters leerbaar en hou baie voordele vir hulle aangewese taak en doel in. Maar o-wee, hulle ruk hande uit as die dissipline verswak. Mens moet hulle maar onder die hand hou.
Tommy is 'n student van die muil, hy het navorsing gedoen wat al 'n hele boek kan vul. Hy vertel dat daar in Noord-Amerika al meer as 18 000 werkende muile is en dat dié boeties en sussies van die donkie en perd meer en meer in ander dele van die wêreld - selfs Europa - as werkers aangewend word.
Ek verstaan dit, want soos 'n hond, werk 'n muil solank hy kos en water kry. Hy leen nie geld nie, skinder nie oor sy baas nie en laat lê nie die draadtang daar waar laas aan die draadheining gewerk is nie.
SUBMIT YOUR COMMENT