In die Duits-Suidwes tradisie moet daar op die aand voor Kersfees - 24 Desember - 'n witdoring acacia-boom met versierings in die voorhuis staan. Klein pakkies kerskoekies, effense geskenkies en "Gemeisamkeit" maak Kersfees.
Verder, is dit noodsaaklik om op Swakopmund te wees. Die Duits, die son, see en sand is voelbaar, ruikbaar en tasbaar tussen die netjiese geboue van Klein-Duitsland.
Só sal geslagte Duitssprekendes dié tradisie voortleef.
Vertel Martin Wucher my van sy pa, Franz-Josef, die nyweraar en boer op Bergquell wie se pa en oom-hulle Okahandja-legendes was wat ook elke jaar see toe gebeur het ná 'n harde werkjaar. Die Wuchers het van vroeg af al in die land bekend geword vir hulle installasies op plase en veral die pompe, krale en waters op Erindi-boerdery waar beespruduksie voor die Tweede Wêreldoorlog 'n belangrike rol gespeel het.
Die vakansie op Swakopmund as gewoonte was al teen 1978 goed gevestig en dit was alweer tyd vir 'n seevakansie en soos gewoonlik was die laaste pakke gepak en oplaas moes 'n egte Suidwes acacia-doringtak uitgesoek word as kersboom vir die strandhuis in Vineta. Dié is altyd op die dak van die vakansiekar (Land Rover soos ek verstaan) vasgebind en die takke so bietjie met tou ingebind, dat die affêre nie uitmekaarwaai nie.
"Vir ons as kinders was dit niks lekker om met dié pakaas op die dak te ry nie. Jy weet mos, tieners voel ander se spot, nog voor hulle dit hoor, dan is mens skaam," vertel die waardige dr. Wücher.
Sy suster sê dit was 'n moeilike jaar en net voor hulle moes ry, het daar nog 'n veldbrand ook in die droeë gras van Bergquell opgespring wat beveg moes word. Die slag is gewen en die Wuchers kon wegry see toe, maar hierdie keer sonder die doringboom op die Landy se dak.
By Swakopmund aangekom, moes 'n krismisboom gekry word om sy staanplek in die voorhuis te kry. Een is op Walvisbaai gevind, waar die munisipaliteit destyds kersbome uit hul kwekery verkoop het, maar dit was 'n boom met wilde takke soos 'n verkedeveer hoener. Nogal "von Walfischbucht aus" ingevoer en sy takke het ongemaklik boontoe geneig. Dis toe wat oupa Franz-Josef besluit het om bierbottels (foto) aan die weerbarstige takke op te hang en hulle af te trek, sodat die kersliggies mooi hang. Die Wuchers het 'n Weihnachten gehad, soos dit in die tradisie hoort.
Twee jaar gelede was ek in die dae voor Kersfees in Moskou se strate waar die krismisliggies my verbeelding aangegryp het. Die sneeu was baie diep en sneeuploeë het die strate rybaar gemaak. Dis 'n ervaring om te behou.
Maar vir 'n Namibiër is Kersfees 'n ander diep ervaring met 'n doringtak-kersboom, Duitse gemoedelikheid en gemeensaamheid op Swakopmund as 'n móét. Mens kan maklik sê hy ruil geen Europa Kersfees vir 'n regte, egte Swakop-kersvakansie nie. En, ironies genoeg, almal wat mekaar elke dag in Windhoek en op die platteland sien, ontmoet by die see, groet soos langverlore vrinne op Swakopmund se strate en drink so ietsie saam. Soos dit hoort!
Frohe Weinachten vir al my hoogwaardeerde Duitse vriende!
SUBMIT YOUR COMMENT