Iemand wat bietjie stadig van begrip is, kan maklik "toe" genoem word. As hy wraggies baie toe is, sê mense hy is so toe soos 'n klei-os se gat. Ek dink die uitdrukking is argaïs en kom uit 'n era voor selfs my tyd, want toe ek in die agterwerf in die sand gespeel het, het my ma al na Jim Reeves en Elvis geluister en Matchbox het die trekkertjies gemaak waarmee ek ewe klein waentjies rondgesleep het in die nat vyeboomakkers van Windhoek-Wes en Gammams.
Dit was die geslag voor my wat vir hulle waens gebou het wat agter klei-osse ingespan is. Trouens, ek het tussen my skoolmaats gehoor van die uitdrukking "toe soos 'n klei-os se gat". Partykeer het ek dit ook by grootmense gehoor as my skoolrapport in 'n toe koevert by die huis aankom en daar's nie eens een sterretjie op was nie. Ek het toe maar die uitdrukking gaan ontleed en die basiese waarheid van die uitdrukking besef. Watter kind in sy voor-tienerjare sal nou 'n os uit kleigrond bou en onthou om 'n gaatjie net onder stert te druk? Jy kan dan nie eens die deel bou wat die verskil tussen 'n os en 'n bul gemaak het nie, want dit is gewoon nie daar om te bou nie, al het jy al die klei om aarde beskikbaar.
Só is Afrkaans. Die meeste van die beste uitdrukkings van die taal kom uit 'n tyd waarin vandag se Afrikaanspraters nie die praktiese ken nie. Dis eintlik jammer.
Dan ondersoek ons die taal bietjie verder. As Afrikaans se groot oomblik dan in 1925 as amptelike taal gekom het, waarom lê die taaljuwele dan in die 100 jaar voor 1925? Taalhistorici slag my oor hierdie dinge...
Vat nou die uitdrukking; agteros kom ook in die kraal.
Nou nog 'n idioom wat opkom wanneer radiovasvra-programme aangebied word en ná my mening moet die vraag in 'n Afrikaanse matriekvraag omskep word. Dit behoort bloot te wees; wat is 'n os? (1 punt) en vir 'n bonuspunt; het jy al een gesien? Kinders weet nie meer nie.
Goed, die antwoord op die vraag oor wat die agteros en die kraal betref, is gewoon dat selfs die laaste os uiteindelik in die kraal kom en die hek toegemaak kan word. Die klem is hier op die begrip van stadigheid.
Die agteros is in hierdie verband 'n bietjie van 'n probleemos. Dalk lui, moedswillig stadig of iets. Die waarheid lyk dalk anders; die agterste osse doen die hardste werk in 'n span, want die disselboom van 'n swaar wa dra op hulle skowwe meer as op die res van die span. Dan is 'n lang span só georganiseer dat 'n agteros eerste ingespan word en nie soos ander osse juis beweegruimte het nie. Die wadrywer se sweep klap nader aan sy lyf. As die dag se werk klaar is en die wa finaal afgelaai is, is die span osse uitgespan. Dan is die agterosse in die tuie gehou om die ligte wa na die waenhuis te trek voor hulle uitgespan en na die krip aangejaag is om water te suip. Dan eers kon hulle kraal toe om te vreet en te rus.
As ons hierdie storie hoor, is die agteros steeds die luigat van die span, of is sy (on)waardige aanstap na die kraal toe 'n oorwinningstog?
En, onthou die os is reeds van sy manlikheid ontneem sodat hy spesifieke eienskappe kon ontwikkel. Temprament, groei, gewig en uiteindelik die slagtersmes.
In my boek moet die agteros-idioom as haatspraak verklaar word en daai Brahman-standbeeld op Gobabis aangevul word met 'n klomp Rooi Afrikanersosse wat rondom hom wei!
SUBMIT YOUR COMMENT