Donderdag - op 30 Oktober 1974, om 04:30 die oggend - het ek in Swartbergstraat (Eros), Windhoek, Suidwes-Afrika, geluister hoe Mohammad Ali vir George Foreman uitknikker in die swaargewig bokskampionskapgeveg in die destydse Kinshasa in Zaire.
Ek was 15 jaar oud en die geveg van 'n leeftyd lui nou nog in my geheue. Wat 'n gebeurtenis! Die Rumble in the Jungle het ná daardie Afrika-oggend aan Mohammad Ali (Cassius Clay) GOAT status gegee (Greatest Of All Time). Dit het ook 'n nuwe geslag bokshelde by mense wêreld oor afgesmeek.
Toe breek die era van die Wit Swaargewig Bokshoop onder Suid-Afrikaners aan. Iewers moes 'n groot sterk blanke bokshoop vandaan kom en Suid-Afrika het aangetree om getel te word. Dit was die Gerrie Coetzee's, Kallie Knoetze's, Pierre Fourie's, Corrie Sanderse en Francois Botha-hulle. Swaargewig boks het politiek geword en 'n skuilplek gebied waaragter blanke onsekerhede kon wegkruip. As ons maar net op die boonste trap van daai leer van die sewentigs en tagtigs kon bly.
Derduisende jongmense het aan die bokssport verslaaf geraak daardie jare en as gevegte moes plaasvind, het dit wakkerbly van ondersteuners geverg. Dis was laantaand- en voordagsport(s) as oorsee geboks word, want dis mos op ander plekke lig as dit hier nag is. Min mense het televisie gehad en die transistor-radio was onontbeerlik om die aksie te volg. Om die waarheid te sê, omdat Gerhard Viviers slaafs as kommentator gevolg is, het boeremense die TV se klank afgedraai en die radio se klank opgedraai om die eensydige kommentaar te hoor in 'n taal wat hulle beter verstaan.
Een keer met 'n Pierre Fourie-geveg het ons só na die geveg geluister en na die dowwe swart- en witbeelde op ons eerste TV-stel gekyk en volgens Gerhard Viviers geglo Fourie het gewen. Ek wou nog vir my pa verduidelik Fourie kon nie wen volgens wat ek sien nie, toe klap die ou my teen die kop dat ek net sterretjies sien. Viviers het dan gesê...
Ná sulke boksgevegte het ons die 16mm rolprent-weergawes by Abe McCabe gaan huur om die geveg op 'n groot skerm te kan sien en ons eie ore nie te glo nie.
In my dienspligtyd by 32Bn was daar in 1978 'n groot troep by die eenheid as deel van die FNLA-soldate wat saam met Operasie Savannah na Suidwes-Afrika teruggekeer het. Sy naam was Jumbo of Ernesto, ek kan nie onthou nie, en spoedig het die gerug die ronde gedoen dat hy tydens die Rumble in the Jungle in 'n voorgeveg geboks het. Toe reël ons ons eie Rumble in the Jungle op Buffalo. Jumbo moes boks teen 'n medic wat glo 'n junior SA Swaargewig-kamioen was. Ek en Lang Swannie het in 'n voorgeveg geboks.
Jumbo het in die hoofgeveg korte mette van die medic gemaak en dié is in sy eie kliniek in die basis weer op sy voete gekry. En só het ons deur die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu besig gebly.
Wie sal die aand toe Gerrie "Seer-handjies" Coetzee vir Spinx uitgeslaan het in die eerste rondte van hulle titelgeveg ooit vergeet. Dit was toe ons al TV gehad het. Ek het 'n drankie gaan ingooi by Hottie Girsch se huis toe dit agter my rug gebeur het, en ek moes maar die aksie op die "kyk-weer" volg.
Dit was nou die hochzeit van die era van boksmalligheid... ook al 'n halfeeu gelede.
SUBMIT YOUR COMMENT