Die opgetekende geskiedenis van Namibia sal nooit volledig wees nie, maar stadigaan kom 'n prentjie van ystere wil en deursettingsvermoë in fokus. Lees maar meer en dieper in die geskrifte om te besef dat die sentrale tema van byna elke verhaal oor Namibia gaan oor hoe die land homself keer na keer genees het ná droogtes. Erge droogtes wat bees- en skaapkuddes byna totaal uitgewis het en hoe landbouers en veeboere daarna opgestaan het uit die Namibstof en weer en weer begin het.
Namibia ervaar nou weer 'n ernsige droogte wat vererger word deur die niksheid van die najaar en die ongelooflike hoop wat met die nuwe reënseisoen afgewag word. Die land se damme is beendroog, die boorgate droog op, die wild vergaan en beskikbare markte begin neus optrek vir die maer slagvee wat uit boerenood aangebied word.
Tog, soos die dae aanskuif, ewig nader aan die eerste reën, praat die eienaars van vee en landerye mekaar moed in. Hulle gee mekaar al raad oor hoe om die groot reën van die komende seisoen te hanteer om 'n beter volgende seisoen te beleef.
Selfs die regering raai boere aan om voor te berei vir 'n goeie seisoen. In 'n verklaring van Weerdienste sê die ministerie van Vervoer (onder wie die direktoraat Weerdienste resorteer) boere moet voorberei om hul kuddes in 'n rekordtyd te herbou as die droogte verby is. Dit spreek van positiwiteit en 'n opgeblase geloof in wetenskaplike weermodelle uit verskeie bronne. In dieselfde kommunikasie word raad gegee oor wat moet gebeur as daar verspoelings is. Sjoh, dis nou optimisties.
Dis mos druppels op die grond wat die verskil gaan maak en nie voorspooksels nie.
Boere, soos die Himba op die werf wat bokke en twee bees op die vlaktes anderkant Opuwa as enigste rykdom aanhou, troos my met die versekering dat hierdie 'n groot jaar sal wees. Om sy punt te maak, wys hy met sy kierie na die sekelmaan wat reg lê om water uit te gooi en dan swaai die stok in die rigting waarvandaan die windjie druk en moet koes om nie raak geslaan te word nie.
Van die beesvelde in die Omaheke laat weet 'n boer die koggelmanders sit bo-op die lynpale se koppe en die skilpaaie en slange loop. Die swarthaak en arrobos bot geel en ja, die wind is saans reg. Algar kyk om te sien of daar weerligte is in die noordooste.
Nog 'n boer raai sy mede's aan om reënmeters te koop by die koöperasie wat meer as 150mm kan meet en een afgetrede boer wat steeds met sy neus in die weer leef, vertel hy het 'n jong man gekry om sy reënmeter teen sy huis se skoorsteen op te sit. Die reënmeter se boom is uitgesny en 'n pyp is aangebring wat die water daarin aflei na 'n soortgelyke reënmeter wat binne die huis teen die yskas gemonteer is. Só het hy nie nodig om in die reën uit te stap om 'n harde reënbui te meet nie. Omdat die eerste reënmeter teen die skoorsteen gemonteer is, weet hy eerste hoeveel dit reën.
Frank Böckmuhl sê die klimaat het grootliks verander en ons beleef in die noordweste die gevolge daarvan. Ná droogte op droogte word die paradys 'n woestyn en word die woesterny 'n toerismeparadys. Ons moet daarvoor voorberei en die gebied bewaar waarvoor dit geskik is. Dit laat jou dink... die groot droë weste van Namibia is die natuur s'n. Die ooste is die bees en skaapboere se grond. Elkeen het sy plek en niemand moet indring waar hulle nie rêrig hoort nie.
Die diep suide en weste is die speelgrond van die gode, of dit reën of nie. Die noorde en noordooste is asemrowend en plesier elke oog wat oor daardie landskappe staar.
Die land se droog is droog. Die grond se moeg is vanjaar baie moeg. Soos Namibiërs is, glo hulle vas in die volgende seisoen. Dis net voor die deur... die een wat twee weke van nou af moet begin.
Geluk lê immer mos maar net om die draai!
SUBMIT YOUR COMMENT