PADLANGS-03-1
travel-centre-logo-01-300x204-1
  • HOME
  • STORIES
    • History
    • Geology
    • People
    • Towns / Cities
    • Flora & Fauna
  • CATEGORIES
    • A snapshot in time
    • Grave Matters
    • Pic of the week
    • Upcycling at its best
    • What's in a name?
    • Where on earth?
    • Bittersweet Karas Home
    • Echoes of the Aawambo
    • Afrikaans ons taal
  • BOOKS
  • ABOUT
  • CONTACT US
Hit enter to search or ESC to close

    people , history , Afrikaans ons taal

    Beeskrale by sylyne

    By Gert Jacobie
    November 16, 2024

    Dit geluk my toe om hier op Christiana in die Noordwes-provinsie twee baanbrekers in die voerkraalbedryf in Suid-Afrika bymekaar te kry. Hulle is albei Van Reenens en hulle beide loop onder die voornaam Louw. Indrukwekkende manne wat voerkraal-empires opgebou het.

    Oom Lourie is die patriarg van die Beefmaster-voerkraal met sy hoofkwartier by Christiana en sy broerskind is van die Sparta-groep in die Vrystaat.

    15_Beeskrale by sylyne-02

    Hulle het albei ook 'n sterk verbintenis met Namibia wat oor baie jare strek, want hulle het derduisende beeste - veral speenkallers - in hoofsaaklik die oostelike beesboerderygebiede van ons land aangekoop. Daaroor het hulle baie stories te vertelle. Oom Lourie vertel van sy beesagent wat in die Hereroland-gebied vermoor is waar hy in die Mbanderu-gronde met 'n klomp kontantgeld gery het. Hy is daar in 'n hinderlaag gelei, vermoor en beroof.

    Louw weer, vertel my van destyds wat die jongbees per trein uit ou Suidwes na die voerkrale toe aangery is. Hy vertel die agente het die bees by die naaste spoorwegsylyn op die trein gelaai vir die lang tog. By die stasies op die weg na die mark het spoorweg-amptenare destyds gekyk dat die diere nie lê nie en het met "protters" die stomme goed weer op hulle voete gedwing. Iewers in die Suide en weer op De Aar is die beeste afgelaai om water te suip en hulle is voer gegee. Weer opgelaai en verder gestuur. Die storie het my laat dink aan die ou troepetreine waarin ons gery het om diens te gaan doen.

    Louw vertel verder dat dit niks snaaks sou wees om van 'n stasiemeerster 'n oproep te ontvang wat aangemeld het dat hy 'n swak bees of twee gekry het wat afgelaai is om bietjie in 'n hospitaalkraaltjie oor te staan nie. Dan word dié met 'n volgende trein weer verder gestuur as die ergste oor is.
    Só het dit destyds gegaan.

    15_Beeskrale by sylyne-03 

    Ek ry gereeld met my Namibia2Go bakkie (hier in Suid-Afrika noem hulle 'n bakkie mos 'n vêntjie, omdat 'n bakkie 'n ding is waaruit 'n skoothondjie water drink). Dan kyk ek by Plantveld oppad na die Noorde na die stewige krale en laaibanke van spoorstaal waar die beeste destyds trein "geklim" het.

    Tye het egter verander en vendusiebees kom deesdae vroeër op groot Scania en Mercedes beeslorries by hulle Suid-Afrikaanse bestemmings aan. Gewoonlik in goeie toestand.

    En die laaibanke en die krale op sylyne? Dié se hekke hang nou skeef aan die skerniere en die silververf het verdof in die Namibiese son. Dis nou waar die krale nie afgebreek en as skroot verkoop is nie.

    Besigheid het verander deur die jare!

    15_Beeskrale by sylyne-04

     

    All posts
    About Author
    Gert Jacobie

    You might also like
    Traveling through time in Namibia
    Traveling through time in Namibia
    November 16, 2024
    Gamkaskloof stories
    Gamkaskloof stories
    November 16, 2024
    Where the road meets the rainbow in Namibia
    Where the road meets the rainbow in Namibia
    November 16, 2024
    SUBMIT YOUR COMMENT
    Padlangs_Cream_alt
    Our Sister Brands
    Copyright 2025. All Rights Reserved by Padlangs, Gondwana Collection Namibia