Wors het in 1652 saam met die Hollanders en Jan van Riebeeck aan die suidpunt van Afrika aangekom.
Alle soorte wors, soos dit deur die jare en eeue heen in die diep ysige winters van Europa ontwikkel het. Weense wors, bokwors, knakwors, belegte wors wat 'n ganse winter lank in 'n kas kan hang om te groei tot 'n meesterstuk. Eintlik wors in enige vorm en styl. Ons sien dit vandag nog in spesialis-winkels hier in Namibia en as jy voor die worstoonbank staan is jy soos 'n verkleurmannetjie in 'n Smartieboks - totaal besluiteloos. As 'n slagter nog 'n meistershaft in worsmaak behaal het, is daar die waarborg van kwaliteit op wors afgedruk. Dink aan brattwurst en kartoffelnsalad of Mittwürst-brötchens by Spar. Wêreldbekend in Windhoek of by die Outjo-bakkery oppad die Noordweste in na 'n Gondwana Collection rusplek.
En dan is daar boerewors - dis amper dieselfe as die ander worse, maar dis spesiaal 'n Suider-Afrikaanse lekkerny en 'n go-to proeïentebron eie aan die wyke van Limpopo tot teen die oewers van die Kunene oral waar 'n waspoor ooit op die subkontinent getrap het.
Dié besonderse stukkie Afrika-lekkerny het natuurlik al afgesmeer aan die eetgewoontes van miljoene besoekers wat deur ons land reis. Ek vind toeriste voor die vleisrak in winkels wat boerewors bestudeer en sonder uitsondering 'n voorraad daarvan aankoop vir hulle reis na avonture op hulle Namibia-pad. Dit lyk lekker en is mos maklik om te berei.
Reeds onlangs 'n uitlander in 'n splinternuwe safari-mondering - khaki-hoed, kamoefleerhemp en 'n te-groot kortbroek, dun wit beentjies, kort sokkies en enkelhoë boets wat hom laat lyk soos 'n springkaan wat in twee .303-doppies getrap het - gekry wat die boereworspakkies in Spar staan en deurblaai soos 'n prenjieboek vir kleuters. Hy lees die etikette op die pakkies en mompel "boorworsh" en hy weeg die pakkies met die hand, dan draai hy die pakkie om om agter teen die selofaan vas te kyk. Dan koop hy, sommer 'n paar pakkies, want hy wéét instinktief, hier hou hy 'n lekker ding in sy hand.
Boerewors is 'n lekker ding mits hy reg gemaak is. Hy hou lank omdat die speserye hom lank bewaar. Die enigste voorwaarde is die kwaliteit en verhouding van vleis en vet in die resep. Altyd 70 persent goeie vleis waarvan die senings uitgesny is en 30 persent vet. Dik of dun... die derms waarin dit gestop word moet skoon uitgespoel wees en die stopsel moet egalig wees, en jy het 'n Suider-Afrikaanse wenner.
En ja, dun wors is vir ontbyt saam met eiers, pap, gebakte tamaties en sousbone en dik boerewors is vir alle ander geleenthede waar jy 'n vuur maak. Dis nou soos kinders kosgee, rugbykyk of 'n toer deur die Namibiese natuurskoon. Met ander woorde altyd en enige tyd.
Elke viertrek-voertuig in Namibia kom standaard met 'n toeklap-rooster en 'n pakkie vuuraanstekers. Daar is altyd droeë houtjies en vrede by stilhouplekkies langs die reisgang van 'n verantwoordelike reisiger en daar moet 'n string boerewors in die Minus-40 wees om 'n eindpunt te kan bereik.
Terloops, die skoon graaf wat agter aan die kappie van 'n huurkar vasgesbout is, is nie om jou uit modder te grawe as jy vasval nie. Dis so onmoontlik soos om jouself aan jou skoenrieme op te trek as jy in hondestront getrap het. Die graaf is daar om lekker vetterige boerewors op 'n oop vuur in te bak wanneer jy langs die pad besef jy het in jou persepsie van tyd en spasie in die Namibiese natuurskoon uiteindelik deur die Boereworsgordyn gebars.
SUBMIT YOUR COMMENT