Afrikaner nasionalisme en gevolglik die Afrikaans taal, was die spreekwoordelike pot lensiesop waarrondom die Boerenasie hul weg na volkstatus wou vind. Afrikaans was die gom wat moes bind.
Vir Afrikaanssprekendes aan die suidpunt van Afrika was taal 'n gemene deler en van die vroeë woordwiggelaars het ruim bygedra om dié nasionale droom te verwesentlik. Dit was harde werk wat inderdaad eers werklik tot volheid begin kom het met die aanvaarding van Afrikaans as 'n amptelike taal in die Kaapse Parlement in Mei 1925.
Die stadige ratte van die staatsmasjienerie het die meule gedraai en hoewel dit oënskynlik altyd behoorlik maal, was die proses frustrerend vir 'n wordende volk wat soos 'n lewendige, gespierde reunperd sy hoewe oor die uitgerekte vlaktes na 'n doelwit wou laat raas. Die taal as enkele rat in die masjien het te stadig gedraai en is dikwels in raadsale onder die vergrootglas geplaas. Dit moes voortdurend opgegradeer word en dit moes, selfs geforseerd, aangewend word om ideologie en strewe van die wordende volk te dien.
Ouer lesers sal hulle herinner watter magtige organisasie die ou SAS&H (SA Spoorweë en Hawens) in Suid-Afrika en hier in Namibia was. Dit was inderdaad die as waarrondom industrialisering van die ganse Suider-Afrika gedraai het en elke myl spoorbaan, elke stasiegebou, elke lughawe, vliegmasjien en elke seehawe en 'n massiewe werksmag van die Limpopo af tot in Kaapstad en van De Aar af tot by Tsumeb was deel van die SAS&H. Die spoorbaan en lokomotiewe, see en lughawens was nie 'n losmaakbare deel van die groeiende industriële staat nie, dit was die DNA van die Suid-Afrikaanse storie.
Só is voor en ná die Nasionale Party se oorname van regering in 1948 en voorbreiding vir Republiekwording meer klem gelê op die rol van Afrikaans as volledige bydraer tot die nasiebouproses. Daar was dwang in skole, bietjie meer plek op biblioteekrakke vir Afrikaanse boeke, eie Afrikaanse versekeringsmaatskappye, handelsbanke, kleinhandelgroepe en les bes, die SAS&H. Altyd en in elke dorp en stad aan die oorkant van die dorp (die onderdorp). Die Spoorwegkant van die sportvelde en soveel ander plekke waar byna neerhalend na die beste van ons ou volkie verwys is.
Mens raak amper weemoedig as jy die geskiedenis uit daardie hoek beskou. Die SAS&H was 'n allemans heenkome van die oorlog se dae af.
G'n wonder dat die Suidwester-koerant in 1953 iewers tydens die begrotingsdebat in Suid-Afrika berig oor die bespreking van die SAS&H se rol dat daar steeds te min Afrikaans langs die spore gepraat word nie. Mnr. M.C. Botha, toe 'n voormalige sekretaris van die A.T.K.V. (Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging) het 'n verslag in die hande gekry wat kort ná die 1948-bewindsoorname opgestel is oor die gebruik van Afrikaans in 124 depatemente van die magtige SAS&H. Daarin word destyds bevind dat net in sewe depatemente oorwegend Afrikaans in kantoorbestuur en interne kommunikasie gebruik is, terwyl 117 departemente nog onnodiglik met Ingels besmet was. Die toensmalige afdelingshoofkantoor van die SAS&H in Windhoek was 'n uitskieter in die verslag, met 62% gebruik van Afrikaans in die omtes van die droogland waar die ou Unie Verdedigingsmag beheer oor Suidwes (Namibia vandag) uit die hande van die Duitse Imperiële Magte in 1915 geworstel het.
Dis egter nie die hele waarheid van Afrikaans in Namibia nie. Die Taal was toe al meer as 100 jaar vroeër die land ingedra deur swerwende stamme, bendes, sendelinge en handelaars en ander. Geskiedenis en stories van ouds is meer as die bladsye van die boeke waarin dit opgeteken staan.
SUBMIT YOUR COMMENT