Dis eintlik net daai tannies in die kleurvolle woonwaens met hulle kristalballe, weervoorspellers, ekonome, finansiële raadgewers en liegbekke wat op Nuwejaarsdag met 'n glasie van die druiwestok se beste in die hand sit en die toekoms voorspel. Die res van die wêreld sit gewoon in vrees en hoop op die beste.
Ekself is 'n dromer en skrywer en my verbeelding hardloop gereeld met my weg en dalk glo ek aan fabels. Ek het so vreemde geneigdheid om te lees, luister en te beplan vir die beste tye. Daarom huiwer ek nie om na die weervoorspeller, die ekonoom en die fortuinverteller te luister en dan scenario's te bedink nie. Ek is darem nog realisties genoeg om ook die "worst case" scenarios in gedagte te hou. Daardie werklikheid het deur die jare bewys is as die mees waarskynlike.
Ek het as kind op Witbank in die Oos-Transvaal by 'n meisie - Yvonne - gekuier wie se ma bedags op die dorp mense se fortuin teen betaling vertel het. Sy was 'n Afrikaans/Engels vrou wat bedags 'n gypsie was en met 'n Middel-Europese aksent gepraat het, maar saans saam met wyn 'n Afrikaanspratende heks geword het. Die dinge wat sy saans oor my te sê gehad het, was verskriklik.
Toe ek koerantredakteur was in Windhoek, nooi Mariëtta Theunissen, die Otjiwaringo-mens wat bekend geword het in die TV-program "Die Ander Kant" my 'n slag vir 'n onderhoud en 'n gratis kykie na my Ander Kant. Na haar moes ek ook nie geluister het nie, want daarna het my bynaam, Gert Bad Luck, waarlik waar geword.
Nietemin, waarsêers - of hulle politieke ontleders, gypsies, ekonome of weervoorspellers is, kan ook maar net raai met die feite voor hulle.
Die toekoms behoort gewoon aan homself en die mens met sy ervaring en kennis van die verlede kap sy pad oop na die volgende horison.
'n Boer en 'n toeris het veskillende behoeftes. Die boer hou die wolke dop om te sien hoe sy bedryf gaan vorder, terwyl 'n toeris dalk bietjie meer droog wil ervaar sodat hy die zebra's en olifante by die watergate beter kan sien, of die kleurvolle voëls in die hoë bome wat alewig agter die blare skuil.
'n Boer se styl is eerder om die reënmeter dop te hou, 'n sluk skoonwater daaruit te drink en die res vir die grond onder sy voete te skenk. Dan neem hy 'n realistiese besluit om te plant of nie te plant nie. Die konstruksieman hoop dalk die reënmeter bly bietjie langer leeg, sodat hy sy taak sonder uitdagings kan voltooi.
Selde wat, Namibiërs moet drome jaag in die nuwe jaar. In hierdie 2025 wat voor hulle lê, is daar wonderlike Gondwana Collection-roetes wat gery kan word en daar is ongelooflike vista's waaroor heen gestaar kan word terwyl aan die toekoms onder 'n reënboog se punt by 'n pot goud gedroom kan word. Die soort droom wat afsluit by; Ek sal hiervandaan opstaan en gaan doen wat ek moet doen.
Dit is waaroor die Nuwejaar sekerlik gaan. Positiewe denke, ambisieuse planne, die wil om die planne te bestuur en te maak werk. Só is my wense aan die lesers van Padlangs.
Die somerreses haas na sy einde. In regsterme bly die uiteindelike toets; "Hoe sou die redelike mens in hierdie situasie optree?" Ek persoonlik sou sê die omgewing lyk bietjie rof, maar maak die beste daarvan... bou energie op en beur deur die oog van die storm die toekoms in.
Dis my beurt: Ek wens die lesers van Padlangs 'n wonderlike 2025 toe, met baie reën, vol damme in Namibia, veilige reise, gesondheid in die rondheid, liefde, vrede, wuiwende grasvelde en vet beeste.
As my wense waar kan word, gaan Namibia hierdie jaar 'n lekker plek bly om te wees.
Hêppie, hêppie 2025!
SUBMIT YOUR COMMENT