In die jaar 1900 nog is gietysterpotte, swartpotjies, driebeen-potte en al die ander name vir die "dutch oven" nog op grootskaal in die ystersmelterye van Brittanje gegiet en die wêrel vol versprei. Skeepvragte vol daarvan, tot Falkirk in om-en-by 1903 'n fabriek in Durban opgerig en die goed plaaslik begin vervaardig het. Hulle het natuurlik ook koolstowe, mangatdeksels en seeppotte gemaak en dit is hoofsaaklik met die ou Jood se nagosiewa reg deur Suider-Afrika vesprei.
Só kom die geliefde trekpotjie in die veldkombuis van elke avonteruur, reisiger, kamper, geoloog en natuurbewaarder se versameling kombuisgoed ter lande en miljoene... dalk tiene miljoene stukke taai vleis, souserige groentegeregte, hoenders en varke is uit swart potte op etenstafels bedien. Trouens, dit het volksbesig en kulturele gemene deler geword.
Só het die ou beroepsnatuurbewaarder, Louis Geldenhuys, syne ook versamel en 'n duisend Namibianagte - baie kere stoksielalleen - langs sy vuurtjie na n potjie sit en staar terwyl sy kossies gaarstoom. Sy truuk met n swartpot is dalk wetenskaplik verduidelikbaar, maar beslis uniek en dit moes iewers in 'n nanag van een bron aan 'n ander oorvertel gewees het. Feite is, op die pens van die pot, in die middel van die drie pote, is daar 'n kol waarop mens kan druk sonder om te brand. Al haal jy die pote van rooiwarm kole af.
Hy het die storie vir my vertel oor n glas goeie rooi wyn op Ombujumenge en sy storie daar en dan bewys. Onlangs het hy en Fanus Oosthuizen 'n video gemaak om dit te bewys.
Die les; sien is glo! Kyk hierdie video mooi en moenie dit probeer doen as jy nie die eerste keer raak kan druk nie.
Ek wonder hoeveel keer 'n mens in n swartpot moet kook om dié stuk kombuisgoed so goed te verstaan en óf jy maar net die eerste keer in die fisieka klas mooi moes oplet.