As mens deur Damaraland ry ná 'n koerantloopbaan (en ander draaie) wat in 1979 by Die Suidwester-koerant begin het, is dit onafwendbaar dat jou gedagtes sal terugdraai na vergange jare. Die plaashekke en herinneringe is snellers vir die gedagtes oor die dae van weleer.
Só trek Daantjie en Soreta se plaas, Weerlig, my aandag en ek bedink my vriend Daantjie se kaperjolle. Hy het vertel die plaas Weerlig is só vernoem deur 'n landmeter omdat die granietkoppe in die donderweer en blitse rooi gegloei het as die weer dit raakgeslaan het. Hy het my reeds ou jare gebel en gesê die swaar were het hom amper dood gehad in sy bakkie toe die lang plaasradio in die kar se antenna in die onweer aan 'n elektriese oorhoofse kabel geraak en dit toe 'n "short" veroorsaak het.
'n Ander keer is ek van Weerlig af gebel toe Daantjie se seun met 'n gekweste tier in daardie einste granietkoppies deurmekaar geraak het. Die luipert is alkant skerp, maak nie saak hoe jy hom aanpak nie. Die seun was uitmekaar gekrap en gebyt maar hy het steeds die dooie tier huis toe gebring voor hy hospitaal toe is.
DIt dien natuurlik genoem te word dat Ou-Daan van Vuuren oor 'n drinkding graag na homself verwys het as Daan van die Weerligte, vooraanstaande Damaraskaapboer en Brahmaan Stoetteler. Jy was 'n storieman van formaat en hy het ook beweer daai deel van Damaraland - dis nou noord van Fransfontein af Kamanjab toe - is so droog dat met die Sonvloed het hulle daarlangs net die were op die horison gesien. Ek het altyd geweet Daan het 'n hartkwaal gehad, want as ek net verkoue gehad het, wou hy vir my 'n afspraak by sy dokter maak wat Swakopmund van tyd tot tyd uit die Kaap besoek het. Soos baie Namibiërs, het Daan aan die Kaapse dokters geglo. Daantjie Weerlig is in 2019 oorlede en toe ek destyds die nuus kry, was ek oortuig sy hart kon daai uitmergelende droogte van 2019 eenvoudig nie uitstaan nie en hy het soos die Damaraskaap en die Brahmane wat hy lief gehad het, gewoon in die droogte vergaan. RIV Daan. Jy was 'n legende.
Manni Goldbeck van Gondwana Collection het op die Padlangs-reeks oor Daantjie Weerlig van Vuuren se Damaraskaapstoet geskryf. Daantjie en oorle Toy Maritz het die skaapras in die noordweste tot stoetskaapras "gesmokkel" uit Himba vetsterte wat van noord van die veeartsenylyn (Rooilyn) af ingebring is.
My onlangse Padlangs-toer daarlangs was 'n herinneringstoer. Die Van Vuurens is steeds op Weerlig en daar was vars nuwe gras op die velde. Welliswaar effense veld, maar tekenend van nuwe tye daar waar die weerligte slaan.