Eers was die wêreld in die noordweste van wat nou Namibië is, woes en leeg. Die enigste spore wat 'n wandelaar daar sou vind, was dié van wilde diere.
Die spore het meer geword deur die rustige eeue en 'n nuwe spoor, die van 'n mens, is meer en meer oogemerk. Uiteindelik is die spore met karakters verbind en die wandelaar het geleer dat deur fyn waarneming, hy sou kon aflei wat die bedoeling van die mensespoormaker is. As mense in 'n bondel loop, het hulle 'n plan... dis 'n logiese afleiding. Mense wat saamloop soek iets. Dalk kos vir hulleself. Beslis veilige water, vrede en beskerming teen die elemente en as hulle vee het, weiding in die beste van tye.
Só het dit seker maar deur die eeue gegaan tot dit nodig geraak het dat handel gedrywe moet word om te oorleef of welvaart te verbeter. Uiteindelik het geskoeide spore ook oor die harde klipaarde van Fransfontein begin loop. Daar was jagters, sendelinge en handelaars, verdruktes en uitkomssoekers. Pelgrims het altyd na iets beters en veiligers gesoek wat dalk onder die reusebome naby soet waters gevind kon word.
Vir die Swartboois van Namaland, onder hulle leier, Cornelius Swartbooi, was die 1860's 'n tyd om 'n nuwe heenkome te gaan soek. Die Witbooi's het hulle onderdruk en hulle beeste gesteel om mee te kon koop by die handelaars. Met 'n sterk bewustheid van die Christen-geskiedenis wat sendeling Kleinschmidt by hulle ingedril het, moes hulle Moses, hoofman Frederik Swartbooi, hulle na 'n nuwe Beloofde Land lei. Só beland hulle in die laat 1800's teen die Kunene-rivier waarvandaan hulle terugdraai en net 'n naam los; Swartbooisdrif, om verder suid en wes teen die lope van die Ugab iewers 'n staning in rus en vrede te vind.
Natuurlik het die Swartboois met ander soekers en pelgrims kontak gehad in hulle soektog na hul veilige plek. Die waters van Otjitambi was brak en min en die hoofman het verspieders gestuur om verder te soek. Die stamsekretaris, Frans, het die nattigheid onder die woudbome eerste gekry en sy manskappe aangesit om met gemsbokhorings te grawe tot die standhoudende fontein se soet waters vrylik gevloei het. Vir die Swartboois was dit 'n opdaag-oomblik in hulle eie Kanaän.
Ambassadeur Joshua Hoebeb het my die storie Saterdagoggend op Fransfontein só vertel, waar oud-kaptein Daniél Luiperdt die tradionele stamleierskap aan kaptein Charles Otto Uirab sou oorhandig (Kaptein Luiperdt het minute voor die seremonie flou geword en is per ambulans afgevoer Khorixas toe vir behandeling).
Die storie van Fransfontein is egter nie net 'n gelukkige einde nie. Die verhaal gaan eerder oor die samevloei van mense van verskillende herkoms van noord, suid en oos oor die belangrike roete wat steeds aan die ontwikkel is langs 'n weg na nog 'n beter Namibia.
Saterdag was die klem op kultuur en geskiedenis van die Swartbooi-volk en hoe ander swerwers oor meer as honderd jaar deel geword het van die gemeenskap. Die Herero's het gemarsjeer in uniform, die Nama's het kleurvol gedans en die jong Owambo-meisies het voete gestamp. Hulle was algar Fransfonteiners, maar in die stof op die droeë swarthaak- en mopaniebosse kon jy verandering ruik.
Binnekort moet teer op die uitgetrapte gruis van die pad tussen Uis en Khorixas, oor Fransfontein na Kamenjab gelê word om gladder toegang na die natuurskatte van Noordweste te verseker en die minerale rykdom van die omgewing te ontsluit. Dit kom so seker as wat die dag die nag volg.
Om by Fransfontein te kom, moet jy een van verskeie roetes ry. Myne was 'n gekose roete oor Outjo na Khorixas en dan die 20km hellepad noord na die gehuggie. Ekself was al meermale by Gondwana Collection se DamaraMopanie Lodge - sowat 30km van Khorixas af in die mopaniewoud teen die Fransfonteinberge - 'n gas en het die naweek weer ervaar dat die groep se aanbieding 'n "wêreldklas"-ervaring is. Die aandag aan detail verbaas telkens en van persoonlike aandag tot decor, spyskaarte en bestuur kan stories 'n hele boek van vertellings word.
Dit bly aangenaam om 'n vriend van Gondwana genoem te word.