Met die were wat nogmaals oor Namibia vergaar, groei die geloof en hoop dat die ou Dorsland hierdie keer geheel sal ontsnap uit die wurggreep van wat wyd beskryf word as die ergste droogte in 'n honderd jaar.
Dit het op ons koppe begin reën en Namibiërs is oorloop optimisties dat die dag vir groot dinge op hande is. Die ryers pak hulle karre en die naweekbesoekers vra rond vir viertrekkers, want in die berge rondom die konkreetwoude is dit tydens reëntyd die heeltyd speeltyd.
Só doem in die opbou van die reënwolke oor die sentrale deel van die land 'n foto van 'n plaasnaambord op en teen die agtergrond van die oomblik trek dit baie aandag. "Verrewinde" staan geskryf met 'n ou rooi motorkar en die die naam Louis en Nerine-Maré Carstens. Wat sou agter die naam van die grondstuk skuil...?
Die foto is net 'n foto en is maar net mooi en ek het Verrewinde (die uitdrukking) al iewers raakgetrap in my Afrikaans. Soek, soek en soek.
Die maklikste sou wees om vir Louis Carstens op te spoor, maar die beste beskikbare soekenjins kan nie help nie. Soek dan vriende van vriende op sosiale media, maar geen geluk. Soek die plaas... dis in die Erongostreek iewers duskant Karibib naby Otjimbingwe. Dis 'n moeilike plek om te boer, selfs vir die sterkstes onder die sterkes.
Duskant is die droeë aanloop na die Namib in sy volle glorie en naby langsaan is Otjimbingwe met 'n geskiedenis so lank soos 'n groot man se arm oor allemansgoed.
C.M. van den Heever, een van die groot Afrikaanse skrywers, het in die jare van storm en drang van die Afrikaner in sy roman, Laat Vrugte, juis die begrip Verrewinde verwoord in sy beskywing van die Afrikaner wat verknog was aan tradisie en 'n volgende geslag wat verandering en vooruitgang nagestreef het. Ou Sybrand, die patriargale gesinshoof in Laat Vrugte se seun Henning, wou vorentoe, beter vaar en breek met 'n ondiensbare verlede, terwyl sy vader vas gestaan het in sy eie gelowe en maniere. Dis gewoonlik 'n resep vir konflik en mislukking waarmee saamgeleef moet word.
Terwyl die soektog na Louis Carstens voortgaan oor waar sy agter-Erongoplaas se naam vandaan kom, kan mens net wonder waar die winde van Verrewinde vandaan kom en waar gaan dit heen?
Terloops, in die naam Verrewinde, is daar dalk meer romantiek vasgevang as wat die oog sien. Die vlae geskiedenis wat teen Namibia vasgewaai is sedert die Boere-oorlog, die Groot Oorlog, die Depressie, WWII en die verdeling van nuwe plase in Namibia onder die Mandaatreg verdien nog baie meer aandag.