In die dae toe ou Suidwes nog woes en eintlik leeg was en toe die teerpad noord uit Windhoek na Okahandja nog 'n smal en kronkelende teerpadjie was, was dit die lekkerydeel van 'n reis na Noorde.
Van Okahandja af verder het die ou boere maar "sôkkel-sôkkel" op 'n gruispad aangestoot Otjiwarongo toe en verder. Hulle het Ford F100 en een-ton Chevs gery. Oom Barend van Oktrooi het juis 'n Chev gaan koop vir hom en Ta' Katryn en die kinders van 'n buurplaas moes oorkom om die geld daarvoor uit 'n trommeltjie onder die kooi te kom uittel. Dorp toe gaan was nie alledaags nie en toe die Chev eers op die werf staan, moes iemand oom Barend leer om die olie na te gaan, petrol aan te vul en wanneer om "low-" en "top gear" te gebruik. Só het die smouse maar nog by die plase omgekom met negosiegoed en rondrits was 'n halfdagreis na bure wat bietjie ver was.
Die diensleweraars aan boere was maar die spoorwegbus op sy roete om roomkanne op te tel vir die romerye op Outjo, Rietfontein, Windhoek, Gobabis en so aan. Die groot bek- en klouseer van die vroeë 1960's ná die droeë vyftigs het ook nie juis in boere hande en sakke gespeel nie. Daar was gewoon nie baie geld in omloop nie en elkeen het maar gedoen wat hy kon om die pot aan die kook te hou.
Die Wucher-broers van Okahandja was die kar en masjienregmakers van die Okahandja-distrik van om en by 1905 af tot laat in die '60- en sewentigers. Hulle het die plase oos, wes en noord van die dorp deurgereis en veral waterpompe en windpompe by poste en opstalle versien. Dié wat ernstiger werk nodig gehad het, is opgelaai en op Okahandja bewerk.
So werk Franz-Josef Wucher en sy broer, Fritz, een Sondag aan 'n waterpomp naby 'n opstal op 'n plaas wat waarskynlik vandag deel van die massiewe wildplaas Erindi is, toe die Afrikaner-boer se twee seuns - netjies uitgevat in hul beste Sondagklere - by hulle kom rondstaan. Die twee besige mannetjies het afgedwaal waar in die boerehuis kerk gehou is.
Soos seuntjies maar is, vra hulle baie vrae en spring soos hase rond. Wat is dié en dat? "Ghries," antwoord Franz-Josef die een mannetjie toe hy vra na die taai swart goed in die groot konka wat eenkant staan en waarmee die twee Duitsers die parte van die masjien smeer. Franz-Josef vra hulle of hulle dink hulle kan hoog spring. Die twee seuns wys sommer dadelik en Franz-Josef se nee manne. As julle ghries aan julle bene agter julle knieë smeer, sommer dik ook, spring julle oor die kraal tot by die huis. So gesê, so gedaan.
Ek hoef seker nie te vertel hoe kwaad die kinders se ouers was toe die smerige spul by die huis aankom en die kerkklere soos seeppot-vatlappe lyk nie.
Die humor van die ou Duits-Suidwesters het my nog altyd ge-interesseer. Praktiese grapmakery was myns insiens deel van die normalisering van verhoudinge tussen die die Schutztruppe van die Duitse Koloniale Regering en die honderde (selfs 'n paar duisend) Afrikaner-setlaars wat ná die twee wêreldoorloë op nuut opgemete plase in die Mandaatgebied gevestig is. Die oorgang het tyd geneem om tot volheid te kom en so het die Afrikaner-nasionaliste en die Duitsers in die "zeitgeist" van ná-oorlogse Duitsland soos kosbare half-edelstene teen mekaar geskuur om as historiese juwele in die Namibiese kroon geset te word.