Die jaar was 1972. Ek was 14 jaar oud, het Lexington sigarette saam met Tom Human gerook, maar nie voor my niggie, Anna, nie. Die plaas noord van Witvlei se naam is Delville. Daar het ek baie hard gewerk vir kos, slaapplek en 'n paar sente in my sak as Oom Tom my ná die vakansie op Witvlei gaan aflaai om die nagtrein te haal na Windhoek as die skoolvakansie verby is.
Een keer is ek en my partner in crime, oom Tom, met sy agt-ton Ford lorrie met 'n paar melkkoeie na die Van Zyls se plaas, Dalmuta, naby Summerdown toe. Daar het ons die koeie afgelaai en Dalmuta se bees begin werk. Hulle is gedip, gespuit, horings is afgemaak en die groot trop bees is gesorteer. 'n Brahman os met nukke en wilde oë het sy gat gesien toe hy deur die drade probeer neuk. Oom Manie het 'n grys baadjie aan gehad en hy staan en werk nog toe die bees die wagters teen die krale se drade opgejaag het. Ekself het pas met 'n paar beeste by die krale opgedaag want ek het gekies om perd te ry en bees bymekaar te maak. Destyds nie geweet mens kannie met 'n kortbroek en vellies tussen haakbosse beeste bymekaarmaak nie. Binne minute lê ek toe nog met my bas op die grond ook, omdat beesperde uitswaai vir lae takke en digte bos.
Die stryery tussen die jong brahman en oom Manie eindig toe waar oom Manie die os met 'n dik dropper platslaan.
Teen skemeraand, toe ek aan tafel sit met my verflenterde klere, gee Oom Manie se dogter, wat met 'n Van Zyl getroud was, vir my van haar kind se klere. My skoene sonder sokkies was nog heel, hoewel die een vellie se sool begin ingee het.
Oom Manie was stil die aand aan tafel en toe hy praat, praat hy alleen. Dié trop bees, 242 van hulle wat met silwer verf op die een boud gemerk is, moet voordag die 80 km Deville toe getrek word. Ek en drie werkers moet n donkiekar pak met slaapgoed en kos en vroeg wegkom.
Tom gee ons R15 in kleingeld. Daarmee moes ek water betaal vir die boer waar ons die bees die aand laat suip. Ek vermoed dit was op oom Charlie Maiberg se plaas. Daar was n algemene handelaar ook op die plaas. Ná ek water betaal het, koop ek toe 'n klein pakkie Tastic reis omdat dit "altyd perfek" kook, 'n pakkie '10 Lexington vir na die aksie en 'n bottel Lieberstein. Ek en die drie werkers het soos dit hoort, die bottel wyn daar by die donkiekar geknak en elkeen twee sigarette gevat, die rys uit die swartpot gekrap met ons hande en in dooie slaap verval.
DIe anderdagmore het ons verder getrek en hoe nader aan Delville, al haastiger geraak. Iewers het 'n klompie bees deur die gangdraad gekom en ek kon hulle met die perd terugdruk in die trop in om die spul bymekaar te hou op 'n drafstap Delville toe waar ons weer net teen sononder aangekom het. Die krale is toegestoot en ons is almal huis toe.
DIe volgende dag kyk Tom die bees deur en hy sien drie vreemde beeste, sommer groot koeie, tussen sy bees en daar's twee van syne weg
Oom Tom Human van Delville is ook nie meer met ons nie (RIV), maar hy kon die saamsleepbees erken as oom Schalk-hulle s'n en ons daarmee terugstuur om ons brouwerk te loop regmaak.
Die Omaheke-streek van Namibia is beeswêreld. Tot nou toe vol vlaktewild-jagplase en gaste-herberge, maar essensieël beesplase met troppies skaap en 'n paar varke om die groentebehoeftes van vleiseters aan te vul. Waar die sandveld noord strek so vêr as Godsgenade is die reën ook vanjaar skraps, maar selfs in die tekort bly die mooi asembenemend.
Hêppie travels deur die land van son en sand!