Padlangs Namibia

Reaksie op kieries

Written by Gert Jacobie | Sep 13, 2024 10:00:00 PM

Die kuierkierie-verhaaltjie van vroeër vertel die storie van presies hoe ná aan mekaar Namibiërs in die "wyd-verspreide Noorde en die eensaam-vlaktes Suid" van Namibië leef (met apologie aan die skrywers van die skoollied van die Hoërskool Windhoek wat lankal hul eeufees gevier het.

In reaksie op die kuierkierie met sy klein koppie, vertel Siggi von Lūttwitz wat in die omuramba's (as synde droeë riviere en panneveld) oos van Windhoek boer, meer oor die Herero-kierie: "Gert, die kieriestorie is meer n kulturele as tradisionele gebruik by die Herero's. Die lang dunne is ‘n statussimbol vir getroude mans. Ons het hom as "Passiona" kierie leer ken as die man gaan kuier. Hy word deur die pa van die bruidegom uit n rosyntjiebos gesny, in warm as of kole gesit om die bas af te kry en om hom mooi reguit te buig.



"Hy kan ook deur die bruidegom self gesny word, maar moet dan ten minste drie dae in die pa se besit wees, voor hy tydens die troue-seremonie aan die bruidegom oorhandig word.

"Die moerkierie of "onguinja" word van die blinkblaar wag-n-bietjie of omukarru gesny en het n kort steel met 'n dik knop. Hy is vir verdediging en is onder meer. gebruik vir luiperdjag. Die beeswagtes het met 'n klein en digte haakbos in die linker hand en die onguinja in die regter 'n luiperd wat of deur honde vasgkeer of in n slagyster gevang is, genader en sodra die luiperd storm, het die man die haakbos voor hom gehou en dan die gebriekte tier bo oor die bos met sy moerkierie van kant gemaak."

Nou hoe wil jy die storie beter vertel?

Leopold Visser het in Kalahari groot geword en hulle het lank met karakoelskape geboer. Hy vertel: "Op Karakoelplaas grootgeword en deur my pa geleer om skaapvangkierie te maak wat om sy nek pas en so 5 na 6 voet lank was. Uit soetdoringbos stam gesny en dan buig jy die stam in die vuur 'n mooi ronding en maak met draad vas. Word dan in die dam gegooi om daar droog te word en daarna kom die bas af.

"Van agter af word die haak om die karakoel se nek gesit as dit in die bondel indruk (karakoel is mos tropdier) en dan klim jy op sy rug en knyp hom met jou bene vas, of as jy groter word, lug jy hom met die kierie op sy agterpote en dop hom om. As jy ouer lammers moet vang in die veld, hardloop hy mos onder jou uit en as jy in die hardloop afbuk om hom te vang, dan is die krom kierie baie handig. Baie jare later het n boer van SA aan ons aluminium kieries verkoop wat om die skaap se enkel pas en net groot genoeg vir 'n lammetjie se nek was.



"... en die loopkierie is by beeswerk net so handig en om jou beesbul mak te hou. As jy die bees daar by die waterpunt kry, dan loop jy so al pratende tussen hulle rond met jou kierie en benader die bul stadig van agter en krap hom so liggies met die kierie aan daai sak waar hy nie die bosluise kan beetkry nie en waar dit gewoonlik jeuk (as jy hom raaksteek, skop hy jou). As jy reg krap gaan staan hy doodstil en dan krap jy met die hand. Hy word later hondmak en staan sommer as hy jou en die kierie sien."

Nou wag ek net vir Meester Ben Tjimune van anderkant Omatjete om vir my 'n Herero-weergawe te gee. Ek kan my indink dat hy al daar in die Ugab-vallei iewers sy humeur op 'n dag vir 'n olifant verloor het en dié met so dun kierietjie verjaag het.

Namibia se min mense praat mos lekker saam oor die dinge wat hulle van weet. (Ek sit die mos in die sin om die uitsaai-puritein, Dirk Kleinschmidt, mee te irriteer na ons onlangs gesprek oor Afrikaanse spreek- en skryftaal en maak die punt dat lekker-vertel nie brieke moet hê nie.)