Padlangs Namibia

Ou Jood se hart was van goud

Written by Gert Jacobie | Aug 1, 2025 10:00:00 PM
Op 12 Julie vanjaar sou Mister Harold 110 jaar oud gewees het. Maar hy is al vergange dood. Op 27 Mei 2012 al en vandag ry ons deur Namibia en sien sy familie-besigheid se naam in groot neon-letters oral. M. Pupkewitz & Sons.
 
 
Mister Harold is in Lithaue gebore en was saam met sy ouers en broers in die oorloggeteisterde groter Europa vasgevang tot sy pa Morris, sy ma en hulle drie seuns Suid-Afrika toe kon immigreer. Die slotmaker het in Suidwes-Afrika beland net ná die Groot Oorlog en as wamaker sy eerste geldjies hier verdien, maar met die koms van treinspore en die eerste motors eerder 'n handelaar geword. Volgens verskeie bronne was ou Morris se eerste algenene handelsware-winkel op die perseel in Windhoek by Ausspanplatz waar Mister Harold se kantoor was toe as werkende man in 2012 steeds met sy afdelingsbestuurders vergader het.
 
Die gediversifiseerde groep van maatskappye is in Pupkewitz Holdings gebondel met belange in die motorhandel, boumateriaal, tegnologie en eiendomme. Baie daarvan.
 
 
Vandag se storie gaan egter oor die man, Mister Harold Pupkewitz, se interaksie met "sy" mense. As jong koerantman het ek vele interaksies met die ou sakemagnaat gehad en my min aan sy aardse rykdomme gesteur. Dit was meer as gereeld my taak om met hom as nuusmaker te deel en verslag te doen oor sy doen en late. So het ons 'n verhouding opgebou en gedeelde ervarings gehad.
Destyds, toe ek seribrale malaria opgedoen het en tien dae in die intensiewe sorg-eenheid van die Rooms Katolieke hospitaal in Windhoek gelê het, het my kollega's in die media daaroor berig. Seker omdat hulle gedink het my kersie word uitgeblaas. Mister Harold was een van die eerstes wat my geskakel het ná ek uit die hospitaal ontslaan is. Die ou "mensch" het my verseker ek sal ná die petalje beter wees as voor die malaria en hy het toe voortgegaan en my 'n opdrag gegee om soggens wanneer ek wakker word, strekoefeninge te doen: "like a cat" mister Jacobie, het hy gesê. Toe gooi hy sommer 'n spyskaart in wat vir hom ook werk. "Eat a bowl of cereal for breakfast, a proper meal of boerekos at lunch and always, but always, only soup in the evening" was sy opdrag.
 
Toe hy al baie oud was, het ek en hy een oggend 'n werksontbyt van meneer Tom Alweendo, destyds die goewerneur van Namibia se Sentrale Bank bygewoon. Hy wou sommer met my gesels oor die regering se beleid oor regstellende aksie en die gevolglike swart bemagtigingsbeleid waarmee hy om die dood nie kon saamstem nie. Hy het viervoetig vasgesteek teen die gedagte dat aandeelhouding in sy empaaier gratis weggegee kon word. Inkoop dalk, maar weggee, nooit! (Ek het terloops in die gesprek geëndig waar ek vir hom kos aangedra en skoon servette aangegee het.)
 
 
Toe hy 95 word, het hy my ingeroep om sy lewensverhaal te skryf. Nie 'n biografie nie, dit het hy oorgelaat aan die Joodse gemeenskap en die Gorlicks van Windhoek.
 
Die oubaas was werklik "mensch" en wanneer ek by sy sakeryk se geboue verby gaan, beteken dié monumente vir my soveel meer as die sement en steen wat ek sien. Dit herinner aan die besondere mens wat ek eens geken het. Trouens, dit herinner aan 'n generasie Joodse sakelui wat soveel vir Namibia beteken het.
 
Ek het onlangs in die Grootfontein-omgewing gaan ry waar my stief-ouma as jong weduwee met haar kinders op die plaas Kabare (Bosrand) geboer het. Eendag toe ek en sy daar ry, vertel sy my van haar moeilike jare in die 1930's toe sy vrou-alleen met werkers en een van die groter kinders die byna 60km dorp toe aangepak het om 'n pakkie osse te gaan verkoop. Die plaaslike Jood, Hertzberg, was op 'n smoustog en tref haar daar op die pad aan. Hulle gesels en hy koop toe net daar die osse en betaal haar 'n beter prys as wat sy kon hoop om op 'n veiling te haal. Sy het die tog dorp toe voltooi met kontant in die sak en Hertzberg het die werkers gekry om die osse verder aan te jaag.
 
Die storie oor Hertzberg, my oplees van die ervaringe van Sam Cohen, Herr Lichtenstein en ander Joodse pioniers, asook my ervaring van Mister Harold, het my persepsie van Jodedom in vandag se Namibia vir ewig gevorm.