Die Namibiërs van Europese herkoms word minder. Die bevolkingstelling van 2023/24 wys dat dié deel van die land se wonderlike mense 'n fraksie uitmaak van die totale bevolking en dat die tendens waarskynlik sal voortgaan. Tydens Onafhanklikwording in 1990, 35 jaar gelede, het 'n gebrekkige sensus net meer as 1 miljoen inwoners aangedui en met die laaste sensus is kort meer as 3 miljoen siele getel. Dis sommer 'n fris bevolkingsaanwas in 35 jaar.
Gereelde sensusse, elke vyf tot tien jaar, is belangrik vir staatsbestuur en 'n werkende, betroubare statistieke buro in enige land is goud werd vir beplanning vir onderwys, gesondheidsdienste, die dienstesektor van die goewerment en elke ander faset van staatsadministrasie buite die ideologiese sfeer van groei van 'n nasiestaat.
Op 21 Maart 1990 het die oomblik vir Namibia aangebreek om sy eie potjie te krap en om dit effektief te doen, moet iemand eers al die land se mense tel. Iemand moes weet hoeveel monde daar is om te voer, hoeveel ou- en jongmense daar was wat die vlaktes van die land bewoon en bewerk het en wat die ontwikkelingstatus van die mense is. Só ontstaan die Sentrale Statisiekeburo van Namibia toe en daarmee saam wetenskaplik-gebaseerde opnames van alle soorte. Kennis is mag, sê hulle en kennis ontstaan waar inligting beskikbaar is.
'n Susterskind van my eie moedertjie, André Gouws, dra 'n interessante boek by my aan, waaruit ek toe 'n magdom inligting kry oor wie ekself is en waar die mense van deesdae se Namibia (ou Suidwes-Afrika) vandaan kom in die goue jaar 1939 in die Mandaatgebied. Dit lees soos die gelagsregisters in die Bybel, net 'n bietjie meer volledig. Die boek is die Meinerts Adresbuch/Directory/Adresboek 1939 S.W. Afrika
Voor ek nog die boek kon oopmaak, besef ek al waarmee ek te doen het. Ek sit met die verhaal van 'n volk wat in sy vormingsjare was in my hande. Dis die storie van die verspreiding van mense tussen twee groot oorloë en die storie van mense oor wie die stof van kolonialisering van net vyftig jaar vroeër nog nie gaan lê het nie. Dis 'n handleiding oor ondekkers, handelaars, avonteruurs van destyds en natuurlike beweging van mense. Dis bowenal die geskiedenis van Namibia net op die buiteblaaie van die boek alleen.
Op die voorblad is 'n halfblad-advertensie van Metje&Ziegler (Edms) Bpk. met handelstakke in Lüderitzbucht/Windhoek/Walvisbay en Keetmanshoop. Hulle dryf handel in boumateriaal, ysterware en huishoudelike ware. Verder is M&Z die agente vir Siemens en Halske, Continental bande, Robert Bosch, Mercedes Benz, Auto-Union/D.K.W, Hudson, die Crysler Corporation en die International Harvester Co. In nywerheidsterme verteenwoordig M&Z destyds ook die Atlantic Refining Co. en Scottish Tube Co. Dit alleen vertel 'n storie van handelsontwikkeling en ek het nog nie 'n bladsy omgeblaai nie.
Op die rugkant van die boek is 'n advertensie van die "Koning van Suidwes-Afrika", Sam Cohen, se sakeryk. S.Cohen (Pty) Ltd. Dié sakereus is invoerders en voorsieners van motorvoertuie, parte en bybehore, masjienerie, boumateriaal en algemene ingeneursgoedere ens, ens. Ook is Sam Cohen die alleenverspreiders in Suidwes-Afrika vam 1939 van Chevrolet, Opel, Vauxhall, Pontiac, Autsmobil, Buick, Lasalle, Cadillac, G.M.C. en Bedford Cars and Trucks.
Cohen was in 1939 ook die voorsiener van Caterpillar stootskrapers, Euclitt damskroppers, General Electric goedere en parte en sy maatskappy was Alliance Versekering se plaaslike verteenwoordiger
DIe boek is inderdaad 'n adresboek en nie 'n telefoongids nie... daar was maar weinig telefone beskikbaar met beslis geen nut vir foongidse nie. Dis was eintlik vir my 'n gewaarwording om só 'n diep kyk te kry in die Suidwes-Afrika se doene en late op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog. Wat ook interessant is vir 'n koerantman wat gedurende my media-loopbaan in die besigheid-end van drukkerye (waarvan John Meiner se drukwerke een was) betrokke geraak het, was die potensiële advertensie-inkomste uit die gereelde adresboek as 'n nabetragting. Dit moes op gesigwaarde 'n vet inkomstestroom gewees het.
Soos hierbo gesê, die adresboek lees soos die geslagsregisters van die Isrealiete op hulle pad deur die woestyn tussen Egipte en Kanaän in my 1933-weergawe van die Afrikaanse Bybel. Om my leessorge te vererger, kry ek net ná Gouwsie se gawe by 'n ander mens 'n gebinde verslag deur die goewerneur van die Unie van Suid-Afrika aan die "Council of the League of Nations covering the administration of South West Africa for the year 1929." Dié rapport is in 1930 gedruk deur die staatsdrukker in Pretoria na beide huise van parlement dit goedgekeur het in opdrag van sy ekselensie die goewerneur generaal van Suid-Afrika.
Hou in gedagte dat die Namibia van 1929 'n mandaatgebied was wat deur Suid-Afrika bestuur moes word tot Onafhanklikwording moontlik was. Daai proses het toe sestig jaar later gebeur.
Ons is deel van 'n pragtige land met 'n kort intense geskiedenis.