Padlangs Namibia

Namibiërs is vuurmakers

Written by Gert Jacobie | Aug 30, 2024 8:41:59 AM
Henrie staan en maak diesel vol op Aranos. Die skaaplorrie is vol braaihout gelaai. Die sakkies hout is mooi afgemaak in 10kg sakkies. Op die ryvlak groet ons toe hy uit die Agra-geriefswinkel stap waar hy 'n belastingfaktuur gekry het. 'n Kalahari-boer moet sy administrasie reg hou.
 
Die vrag hout moet Windhoek toe en daar moet voer gekoop word. Henrie het al 'n sterk mark vir sy brandhout in Windhoek opgebou en die dae toe hy daarmee moes smous op straathoeke is gelukkig verby. Hy laai by 'n groothandelaar af. Windhoek se mense gebruik baie hout... daar is sterk kliënte onder die hoër- en middelinkomstegroepe. Veral as die winter, soos vanjaar, koel is.
Statistieke wys dat Windhoekers in die beter dele van die stad tot 'n halwe kilogram brandhout per dag per mens gebruik. Die laer-inkomstegroep in die buurte gebruik amper dubbel soveel brandhout per persoon.
 
Henrie sê hy kan nie anders as om hout te maak nie, want sy plaas is beendroog. Hy het die houtgeld nodig om voer te koop as aanvulling vir die boskos wat hy maal en meng om sy skape wat oor is te voer. Die gemsbokke en springbokke is weggeskiet in hierdie droogte, want hy wou hulle nie sien uitvrek nie. Vir die res, sê hy, is sy oë opgeslaan na die hemele.
'n Boer moet doen wat 'n boer moet doen om hierdie droogte te oorleef met 'n lewende dier op sy plaas. Die tekens is daar dat hierdie droogte selfs erger is as die 2018/2019 droogte.
 
By my slaapplek lees ek in die boek; Sam Cohen of South West Africa - dat die ou nyweraar motorkarre in die land ingebring het in die '20-jare van die vorige eeu. Hy het Jeep-produkte van Amerika af ingevoer toe daar nog net so 50 motors in die land rondgery het. Dis was daardie jare ook droog en verkope was maar swak en verkooptransaksies was nie maklik nie. In baie gevalle moes hy ruilgoedere vir sy Jeeps aanvaar en so het hy die grootste houthandelaar in die land geword. Nie meubelhout nie, brandhout!
 
In die boek wat Manni Goldbeck van Gondwana Collections vir my gegee het oor die "Ongekroonde Koning van Suidwes-Afrika" vertel hy dat toe verkope van Jeeps swak was, hy self verkope gedoen het en op 'n kaart kon sien watter ruilmiddele hy van 'n koper moes verwag. Sy ander probleem was natuurlik dat 'n transaksie lank geneem het om te voltooi, want sonder uitsondering moes hy die koper, dié se vrou en hulle groot kinders eers leer bestuur.
 
Die houtbesigheid is skynbaar lankal 'n probleem en 'n Noordekind soos ek begryp nie altyd al die intriges daarvan nie. Groot dele van die land is erg verbos ten koste van goeie weiveld vir vee. Die bos moet weg. Die houtskoolbedryf in Namibia het eksponensieël gegroei en Namibia is tussen die groot uitvoerders van houtskool na Europa. Gemaklik 10 000 werkgeleenthede word deur die bedryf geskep en miljoene dollars in valuta word verdien. Europese omgewingsvoorwaardes is egter baie streng.
 
Intussen wys statestieke dat tot 90 persent van mense in die digbevolkte Noorde steeds brandhout gebruik om hul daglikse pot kos mee te maak en water te kook. Dit beteken die vernietiging van plantegroei op groot skaal en buitendien word die brandhoubedryf rondom die groot sentra in die Noorde deur kartels beheer. Dit suurdeeg al deur na houtvoorsiening aan die armer buurte in die sentrale stede van die land, net soos die vleisvoorsiening aan die kapana-bedryf, waar massas vleis elke dag op halwe dromme en winkeltrollies vir konstruksiewerkers, kantoorwerkers, tuinjongens berei word (daaroor sal ek later meer skryf).
 
As 'n algemene afleiding moet ons vir eers aanvaar dat Namibia se moderne bewaringsdrome, die vuurmaakkultuur wat diep in die Namibiese genestring ingeprent is en die werklikhede van verbossing nog nie lekker in lyn met mekaar is nie.