Namibia se bankrotplase
Deur Gert Jacobie
Die pad maak 'n skerp draai na regs en die opstal en krale doem voor jou op. Nie juis 'n prentjie om te skilder nie, want die toneel is te besig en straks verwarrend wanneer jy dit die eerste keer sien.
Daar's krale en 'n veesuiping onmiddellik links van die distrikspad en slapregs die indraai na die opstal toe. Niks indrukwekkends nie, geen groot skadubome nie. Net twee huise ongemaklik ná aan mekaar en 'n indraai wat jy eintlik eers sien as dalk al oppad is om verby te storm.
Die huis naby die pad het sinke waar die vensters moet wees en die woonhuis is seker in die sestigerjare gebou. As mens op die werf aankom lê daar 'n geel hond en die tuin is dorre implimente wat ou jare melk afgemaak het, 'n verwaardelose wa en 'n tamaaigrote ou International trekker wat as versiering op die stowwerige werf staan gemaak is.
Verder niks... nie 'n groot skaduboom of 'n blom nie.
Met die nog naderkom sien ek 'n werker skuinsweg in die huiskamp met 'n tuinslang wat gister of vandag se bloederigheid by 'n slagplek afspuit , 'n stel gemsbokhorings wat teen die slagpaal staan en 'n soutvel op 'n sementvloertjie. By die ringmuurtjie knap teen die huis is nog geen beweging nie en die geel hond lê nog.
Ek stap huis se kant toe en sien die vrou van die huis toe sy by die agterdeur uitkom. Sy's maer en nie juis ouer as ek nie. My oë gaan weer oor die werf in die rigting van die afdak langs die huis. Ek mis 'n motorkar op die werf, wat my laat dink die baas van die plaas is seker in die veld. Ons groet soos vreemdelinge moet en ek verduidelik ek het 'n afspraak met Johan.
Die vrou groet met 'n benerige hand. Die vrou sê Johan was dorp toe met veilingbees, maar hy haak soms bietjie vas ná die veiling. Ek moet inkom. Hy is seker nou-nou hier.
In die kombuis ruik ek kool wat kook, daar staan 'n stransistor-radio op 'n groen kombiuskas en op die vrou se aanbieding vra ek water. Sy skuifel om die tafel agter my verby yskas toe en skink 'n glas water agter my rug en gee dit oor my skouer aan. Sy gaan sit oorkant my... en daar sit ons. Johan gaan nou-nou kom. Ons wag dan maar. Sy ooe en ek aah.
Johan se aankoms red my gelukkig minute later as hy vinnig die werf inry. Ek hoor hom sê: "Kiewiet, haak die wa af. Ons moet ry!"
Ek en Johan het gereeld op die foon gepraat. Hy sê die geoloë soek op sy plaas rond. Dalk grafiet en dalk 'n vet goudrif. Hy wil my gaan wys, maar ek mag niks daaroor sê nie, "...want ek moes 'n ooreenkoms van stilswye teken," sê hy.
Ons ry oor klippe en deur klein droeë riviertjies. Ek ruik die dop wat hy ná die veiling gedrink het in die Cruiser se kajuit. Hy wys my waar 'n rif pikswart klip uit die grond kom. Sy dik vinger wys en hy sê dis grafiet.
Op 'n ander plek is met 'n boor gewerk en daar is goudgeel stof om die gat. Ek vra: "Is dit goud se gat?". Johan trek sy skouers op.
Ek vra hom wat nou en hy antwoord dat daar Australiërs of Kanadese was. Hulle het gesê hulle kom terug dan moet daar onderhandel word. Dit was maande gelede en ek moet so vaagweg daaroor skryf om die ouens weer wakker te skud. Maar strategies genoeg om net reaksie aan te wakker.
Ek vra hom oor sy boerdery en hy sê hy verkoop maar so een-een of twee-twee stuks vee na gelang van nood. As die kopers kom wil hy N$55 miljoen vir die plaas hê. Intussen maak hy houtskool ook. Ons ry by die houtmakers verby.
Terug by die huis drink ons whiskey wat ek gebring het en ons eet die kool saam met 'n gemsbokrug wat in 'n buiteoond gaar gemaak is saam met beet.
Toe gaan ons kooi toe met die gedagte van N50 miljoen vir sy plaas en N$5 miljoen as ek die deal kan warm hou.
Johan het weer gebel. Gister, en gesê die onderhandelaars is op pad. Dan gaan hulle konsessies praat. Ek moet daar wees as ek kan.
Hy sê die prys van die bankrotplaas moet aangepas word, want daar sal 'n lodge iewers moet kom en daar sal 'n wildkamp moet wees. "Eintlik wil ek nie verkoop nie... ek dink ek moet die dienste lewer aan die groot boys," sê hy.
"As jy kom maak ek weer 'n gemsbok-rug. Bring jy maar die whiskey..."
Ons lui af en ek besef as die najaar kom en die mopanies staan droog in die noordweste, gryp eensame boere op vêr plase in die agterveld na al die strooihalms...