Ek is een van min wat geweet het sy naam was Dennis. Die res het hom as Kiem geken. Kiem se naam het aan hom vasgesit soos stront aan n wolkombers en hy is met dié naam graf toe en die rede vir die onsmaaklike naam was maar soos gewoonlik; misverstand.
Sy hart was nie kiem nie. Trouens, 'n meer opregte mens met suiwer bedoelinge het ek selde geken. Soos sy bedoeling om nie onnodig te bad, hare te sny of te werk nie. Dit was suiwer voornemens wat hy saam met hom gedra het van die dag af wat ons as laerskoolkinders saam begin loop het. Ek het hom en 'n groep rowwe St. 4-seuns by die ou Laerskool Orban van Windhoek die eerste keer gesien op my eerste skooldag in Sub A. Hulle het gestaan en rook en toe ek later na 'n ander skool toe is, het hulle steeds as St. 4's in die toilette staan en rook. Dis ook seker in St. 4 wat Kiem skool opgegee het.
Ons het lewenslank vriende gebly en Kiem se kommerlose, werklose lewe het my gepla. Toe ek later in 'n posisie was om dit te doen, het ek hom verskeie kere in diens geneem en vir hom 'n heenkome probeer gee, maar hy het elke keer voorwaardes gehad - hy wil op tyd pay (want 'n man het verpligtinge), hy wil 'n buitekamer of 'n ding hê om in te slaap en ek mag hom nie dwing om te bad of hare te sny nie. Sy strewe was eintlik 'n bestuurspos.
Ek het grootliks laat begaan, want hy was intelligent, betroubaar en bo alles, mensch.
Kiem het nooit ambagopleiding voltooi nie en hy het nooit 'n bestuurslisensie gehad nie. Hy was volledig ingelig oor die nuus van die dag en hy was op datum met die wel en weë van gesamentlike vriende, polisienanne en hy was vaardig. 'n Ware voorbeeld van beoefenaar van alle ambagte maar die meester van niks anders as ware vriendskap nie.
Hy het my eendag vertel van sy gunsteling werk ooit. 'n Groep sakemanne het twee hoë-klas prostitute na Namibia ingevlieg en hom aangesê om as lyfwag vir hulle op te tree. Nogal vir hom 'n pak klere gekoop en als. Teen die tyd wat hulle terug is Durban toe, was hulle gek na Kiem se geselskap, amper soos kinders met 'n nuwe troeteldier en Kiem moes op die plek saam as hulle "butler".
Vier maande later was Kiem op die trein op pad terug Windhoek toe. Die pak klere effe deurgedra, wit handskoene in die baadjiesak en sy hare weer toiingrig. Die meisies het hom laat betaal en daai wat hy buite hulle woontel moes wag as daar gaste was, het hom niks aangestaan nie.
Kiem is duskant die Covid-tyd dood in die Staatshospitaal. Hy was nooit getroud nie en daar was geen kind of kraai om hom te begrawe nie. Daar was net ons klompie, ons gelukkige klompie uit sy dae op aarde wat by hom gestop het dag te sê