Stories en grappe oor Van der Merwe is vollop. Gaan luister maar in 'n kroeg of kuierplek op enige plek in Namibia of Suid-Afrika en kort voor lank is 'n legendariese Van Der Merwe die onderwerp van 'n storie. Gewoonlik 'n haas ongelooflike storie.
Wanneer 'n predikant die storie vertel en dit in die Kerkbode (die kerkpublikasie van die NG Kerk) laat publiseer, is daar uit die aard van die saak meer geloofwaardigheid in só storie en as dit nog die dominee van die gemeente van die Maltahöhe gemeente in die suidweste van Namibia in 1950 was, soveel te meer.
Ds. H.R Cilliers vertel juis van die eerste Van Der Merwes wat hulle onder leiding van "Sterk" Hendrik van der Merwe omstreeks 1896 naby die huidige Maltahöhe gevestig het. Hulle was trekboere wat uit die omgewing van Calvinië in die Kaapprovinsie oor Kakamas, die Kalahari en Keetmanshoop op Maltahöhe aangekom het. Om ente bymekaar te hou, het Sterk Hendrik transport gery vir die Duitse Koloniale Regering. Die roete was die helletog tussen Lüderitz en die binneland.
DIt was op 'n watog wat 'n rowersbende Sannagappe Sterk Hendrik se trekspan aangeval het om sy perd, saal en toom af te neem, toe die ou sy humeur verloor en die rowers met kaal vuiste uitmekaar geslaan het. Hulle het gevlug en op 'n afstand op Sterk Hendrik gevloek en hom onder klippe gesteek. Op 'n vraag oor wat die bende dan nou eintlik wil hê, kom die antwoord dat hulle sy bloed wil drink. Hy het glo sy hemp oopgepluk en met sy mes 'n paar diep snye op sy bolyf gemaak en gesê hulle moet dan maar die bloed kom oplek. Volgens oorlewering het die Samnagappe geskreeu; "Dit is die duiwel se kind" en finaal op die vlug geslaan.
Nog 'n vertelling oor Sterk Hendrik is dat sy seun se skaap een nag deur ongediertes verniel is dat daar net een lammetjie oor was. Toe die oubaas dit hoor vervies hy hom en loop soek die tierwolf wat skuldig moes wees. Hy was met 'n panga gewapen, want destyd was geen ammunisie vir sy Lee Mettford beskikbaar nie. Nie lank nie, of hy en die tierwolf kry mekaar en raak aan die baklei. In die proses kap hy met die panga in 'n klip vas en dié spat uit sy hand. Toe is dit kaalhand in die geveg en Sterk Hans word gekrap en gebyt, maar hy kry die tierkat om die lyf beet en druk sy asem uit en sy ribbes af. Die vel van die tierkat het in die huis van die Hauptman gelê en iemand het nog 'n tand van 5cm (2 duim in die ou taal) gehou en beweer die tand het bietjie verweer, want dit was eers 3 duim lank.
DIe goeie dominee vertel verder in die kerkartikel oor Maltahõhe dat Sterk Hendrik twee Duitse vriende in die omgewing gehad het waarmee hy gereeld gekuier het. Op 'n slag raak Sterk Hendrik in die moeilikheid by die gereg en word deur die Hauptman van die dorp tot £50 boete gevonnis. Die
twee Duitse kamarade het nie met hulle Hauptman daaroor saamgestem nie en vir 'n oudisie gevra, maar toe emosioneel geraak en lelike taal gebruik, waarop die Hauptman hulle ook elkeen £50 vir minagting beboet. Dié geld het die ou aardsamptenaar as 'n neseier behou vir die bou van 'n skool en koshuis op Maltahöhe wat teen 1950 al by die honderd leerders geakommodeer het.
Nou weet lesers darem waar van die duisende Van Der Merwe-stories wat om braaivure vertel word vandaan kom.