Oom Andries Nieman het smiddae in die Nord Hotel 'n whiskey gevat voor hy Middelin, so dertig kilometer uit Grootfintein uit in die rigting van Abenab, toe gery het. Dan het hy gepraat oor die bronsmedalje wat hy vir homself losgeslaan as Suid-Afrika se swaargewig bokskampion by die 1952 Spele in Helsinki. Hy moes eintlik die silwer gewen het ná Ingemar Johnsson gediskwalifiseer is in die kampioenskap-geveg. Aan die einde van die Spele is hy met 'n sertifikaat huis toe gestuur wat sê hy was gesamentlik derde op die wennerslys.
Vreemd hoe die ou Suidwester tot voor die podium gekom het, sy volkslied hoor speel het, 'n sertifikaat verwerf het vir sy harde werk en later, baie later, eers die (verkeerde)medalje daar op die plaas ontvang het.
Oom Andries was in 1952 eers die Vrystaat se swaargewig bokskampioen en die Suid-Afrikaanse kampioen en toe deel van die Spelespan na Helsinki.
Die uitdungevegte het mooi geloop en die Amerikaner, Ed Sanders, moes teen Ingemar Johnsson boks vir goud en silver en oom Andries en Ikka Koski, as verloorders in die semi- finale is gesamentlik derde geplaas, hoewel oom Andries in vroeëre gevegte 'n slag vir Koski uitgeslaan het. Koski was van Luthianië of een van daai Russiese satellietstate.
In die finale geveg skors die Olimpiese komitee toe boonop vir Johnsson omdat hy nie wil baklei en die hele tyd weg hardloop as Sanders naderstorm en Johnsson kry toe nie silwer nie. Maar, nog is dit het einde niet!
DIe Olimpiese komitee het besluit die geveg om n derde wenner te bepaal hoef nie plaas te vind nie "omdat dit te veel inspanning sal wees" en hulle plaas toe die twee uitdunverloorders gelyk in die derde plek, gee elkeen 'n sertifikaat en dit is dit. Só kom oom Andries met 'n dokument en 'n dik kop huis toe na die Spele en hy kan sy storie smiddae in die Nord vertel.
Nou, hoe kon hy sy storie vir my smiddae in die Nord Hotel in die ver Noorde van Suidwes-Afrika vertel.
Andries was n skrynwerker op die Vrystaatse goudvelde en in 1958 of 1959 praat Suid-Afrikaners van goedkoop plaasgrond in Suidwes... Oom Andries, sy broer en nog vriende klim op die trein in Bloemfonrein en gaan soek daardie Nervana waarvan hulle gehoor het. Dis droog in Suidwes en iewers naby Omaruru of Kalkfeld verloor die groep belangstelling en buitendien loop die storie dat die grond toe nie so goedkoop is nie. Hulle verlies aan interesse raak nie die kampioenbokser nie en die jong Andries druk deur Noorde toe. Daar besef hy die situasie en gaan soek maar werk by die myne en word mettertyd deel van die spesiale spesies boere wat hulleself daar opgebou het van niks tot sterk boere. Hy kon later die plaas Middelin koop en sy storie in die Nord vir my, en almal wat wou luister, vertel.
Intussen kom die Olimpiese komitee twintig jaar later in 1971 finaal tot sy sinne en besluit die bronsmedaljes wat nooit uitgegee is nie, het regmatige eienaars. Hulle stuur dit toe aan vir die Suid-Afrikaanse Olimpiese komitee en dié bring toe die medalje vir oom Andries daar op sy plaas.
In 'n regstellende aksieplan deur die Finne, is Ingermar Johnsson se silwer medalje ook uiteindelik vir hom terug gegee en daarmee is oom Andries se halwe aanspraak op daardie status afgehandel.
Oom Andries het met Onafhanklikwording 'n Namibiër geword en hy is hier dood. Die boksheld se kinders het hier skool gegaan en sy seuns werk en woon nou in Angola en Australië. Sy vrou leef nog in aftrede in Suid-Afrika. Ek onthou hy het ook n dogter met lang blonde hare gehad, wat smiddae in die Ford F-100 vir hom gewag het terwyl hy sy storie oor sy boksloopbaan in die Nord vertel het.