Juniorjare in die Hoërskool Windhoek daar op die bult in die middestad, was soggens opdraend en smiddae 'n dolle vaart berg-af om by kos uit te kom. Die enigste verskil was dat die koshuisbrakke soggens bult-af skool toe geloop het en smiddae die hoogtes moes klim om by die souspotte van Egipte uit te kom.
WHS lê immers op 'n hoogte in die middel van die stad op 'n berg en die laagtes rondom is die woongebiede behalwe die skool se koshuise wat hoër op die berg gebou is. In die jare sewentig het ons in Eros gewoon en 'n kind het fiets gery. Eers hier van 16-jarige ouderdom af het die moontlikheid van 50cc-motorfietse in spel gekom, maar dit was weer 'n ander fase van ontwikkeling in 'n jong seun se lewe.
Die eerste kruip onder moedersvlerk uit was 'n bicycle skool toe as daar nie 'n saamryklub skool toe was nie. Van Eros se agterste strate af tot by WHS was dit so tussen ses en agt kilometer en ry soos jy wil, iewers is dit skerp bult op en daar stoot jy 'n fiets.
Die dissiplinêre werklikheid van die tyd het soggens begin by die skoolklok se lui. Jy kom nie laat vir skool nie, wat beteken dat jy wintertyd in die donker wegtrek en eintlik rondom 07:00 in die donker al jou fiets in die fietsloods moet hê en voor die skoolsaal moet staan, want in Christelik Nasionale Skole bid ons voor die dag se werk begin.
Vir 'n skoolkind van 1970 tot 1974 was daar 'n spesiale halwe uur of so net ná skool voor die prefekte die fietsloods onder die skoolsaal gesluit het wanneer die gesprek oor fietse, binne- en buitebande, spoedmeters, voet- of handbrieke en die prys van tierlantyntjies aan 'n fiets gegaan het. Dit was ernstige gesprekke en het dikwels op transaksies en begeertes uitgeloop.
So was 'n drarak op 'n dikwiel-fiets belangrik. Dié met die een klamp wat van agter na voor oorgeslaan het, was useless en die kantknypers was beter. Rekhakke om 'n skoolboeksak mee vas te hou, was 'n konstante deel van die inhoud van 'n seun se boeketas, want die het in die fietsloods verlore geraak en was te veel kere die oorsaak van 'n "uitstaan-fight" daar rondom die fietse. 'n Lig en 'n dinamo met flexdraad vir die hooflig en 'n agterliggie was 'n absolute móét, want in die donker soggens ry die Gobabis-boere 'n kind in Windhoek se strate raak - hulle ry mos middernag van die plaas af om sesuur in die oggend by die "spesialis" in Windhoek te wag dat die deure oopmaak.
Smiddae voor sport-oefening, het ons weer die martelpyp geklim om eers 'n draai by Keuler&Kütz te maak waar die ou Owambo-man die koning van die fietswinkel was. Hy kon 'n fiets toe-oë regmaak en het elke ball-bearing en fietstrap geken. Hy het nie raad gegee nie, hy het gesê. So het hy deur die jare gekeer dat nuwe wiele gekoop is waar net speke vervang of verstel kon wees en het hy dinamo's ge-condemn of lampies aangegee om weer ligte aan die werk te kry. Die ou het eintlik 'n hele generasie fietsmechanics opgelei.
Op 'n dag, ek is nie altyd seker wanneer nie, het die bult by die ou Administrateurswoning, die een oor Schanzinweg, die bult uit Keiserstrasse of teen Gobabisweg op en die een tussen die Snyman-sirkel en die Skool op die Bult net te steil geraak. Toe verdwyn die fietse en die dinamo's en Keuler&Kütz en daar hang 'n reuk van tweeslag-enjinrook in WHS se fietsloods.
Die nuwe geur het goed gemeng met die Gunston- en Lexington tabakreuk aan 'n matriekseun se skoolbaadjie. Die nuwe vergaderplek was by die Honda- en die Suzuki-agent.