Padlangs Namibia

Kris Kristofferson

Written by Gert Jacobie | Sep 30, 2024 10:00:00 PM

Ek het op die plaas Deville, in die Witvlei-omgewing, die eerste keer in 1972 van Kris Kristofferson en Rita Coolidge se duet, "Help Me Make It Through The Night", bewus geraak. Ek dink dit was bloot 'n bewustheid wat deur hormonale verandering in 'n jong seun se lewe aangevuur is. Dink aan linte wat losgemaak word, hare wat los val oor vroueskouers en die aanraking so sag soos skadu's in die maanlig teen 'n muur.

Dit was die tyd toe Popmusiek en Country van Amerika af stormsterkte na die suidpunt van Afrika toe oorgewaai het. In winkels en by openbare sentrums het jy daardie dae ligte klassieke musiekverwerkings en Jim Reeves sag in die agtergrond gehoor en by die WIKAa in Windhoek was dit Umpha-orkeste met Heidi en die Südwestelied.

Dalk was my blootstelling maar net beperk.

By die garagepartytjies van my senior skooljare was dit Uriah Heep en Lindisfarne, maar elfuur saans het die dolle skuddanse plek gemaak vir stadige teenaandans waar Kris weer gevra het; "Help me make it through the night..." Hoe erg kan 'n jong seun se drome hom aanjaag op die klanke van musiek om naweek na naweek op die pad te bly na nêrens?

Ons het in elk geval nie Kris, die digter, verstaan nie.

Net 'n jaar ná die hel van skool, was ons in die bos waar ons saam met Kris Kristofferson deur vreemde gehuggies gereis het op die maat van "Me and Bobbie MacGee" en besef het die woorde is waarder as waar: "...freedom's is just another word for nothing left to loose" en ons was almal bereid om 'n prys vir niks te betaal nie. Dit was dan vry.

Die kasetspelers in ons mouters het Kris se musiek saam met ons op lang paaie deur die land gevat. Op die stof- en sinklaatpaaie het die kasette se derms later uitgeskud en die Big-penne wat verslaggewers se karre volgelê het was pasmaak om die bandjies mee terug te draai tot waar woede Kris se rendisie van Casey's Last Ride by die venster laat uitvlieg het en 'n nuwe bandjie van the Best of Kris Kristofferson op Tsumeb by die Weyand se musiekwinkel aangekoop is.

Kris Kristofferson, die digter, akteur van "A Star is Born" en "Pat Garret and Billy the Kid", helikoptervliënier in Viëtnam, taaldosent aan 'n militêre akademie en filosoof is dood. Lank leef Kris en terloops, dankie vir die musiek en die songs. Dit het my lewe baie beter gemaak.

Deesdae ry ek met Namibia2Go deur die land op dieselfde ou paaie van destyds. Ek luister na die musiek waarop ek my tande gesny het op die musieklys van my selfoon wat deur 'n ongelooflike klankstel in die kar gespeel word en verdwaas my oor hoe Kris nog klink ná al die jare. Die ou het net beter geraak deur die jare, maar sy filosofie bly aanklank vind. Saam met Gondwana Collection, Namibia2Go en Kris Kristofferson sien ek week na week en maand na maand Namibia deur nuwe oë.

Soms, net soms, geluk dit 'n mens dat die meetsnoere reg val en jy uit volle bors saamsing: " ...nothing ain't worth nothing, but it is free!"