Skaapwagters het volgens oorlewering 'n vreemde ster vêr oos van Bethlehem iewers in die hemelruim gesien en vir die manne uit die Ooste daarvan gesê. Hulle het die ster bestudeer en besef daar is iets spesiaals aan die verkynsel. Ek sou graag daar in die Arabiese woestyn wou hoor wat hulle oor dié helder hemelliggaam te sê sou hê.
Wat ek wel weet, is dat die ster by hulle 'n gevoel van goedheid en guns moes ontketen. Hoe anders? Hulle het dan goud, wierook en mirre gelaai en die ster gevolg tot waar hulle 'n kind gevind het wie se geboorte so groot impak op menselewens sou hê.
Die goedheid en welbehae aan die hart van die boodskap wat daardie wintersnag in die helder hemelruim bo die skaapwaterskoppe begin vorm aanneem het, het deur net meer as twee eeue iewers in die genestring van die mens beslag gekry. Mense is basies goed.
Dink maar aan die boemelaar wat bereid sal wees om 'n stuk brood te breek en met sy verhongerde maat te deel. Of die ryk man wat ná 'n lewenslange soektog sy fortuin uitdeel om mee goed te doen.
Op Trompsburg in die Suid-Vrystaat het Tabu Swanepoel in 1985 die dag voor Kersfees sy skaapkrale omgery en drie vet slagskape opgelaai. Hy het dorp toe gery en stadig deur die Saterdag se stil woonbuurtstrate na die armstes van die armes gesoek waar hy vir elkeen 'n slagskaap afgelaai het. Die dankbaarheid van die ontvangers was aandoenlik en Tabu se reaksie nog meer; hy het net gesê: "Deel maar met dié wat ook niks het nie."
Die storie is waar, want ek was daar.
Is dit nie opvallend hoe die mensdom hierdie tyd van die jaar saamspan om die sentrale boodskap van welwillentheid deur te dra nie? Ja, daar is kommersiële bybedoelings by die handelaars en daar is selfs gewetensredes by die oortreders van vergange, maar kollektief is die bedoeling van die seisoen goed.
Laat iedereen maar uit sy ondervinding oor die Kersseisoen dink soos jy wil. Dis 'n onvervreembare reg... moet net nie te veel weerstand bied teen die stroom van die gees van Kersfees nie. Strome vloei altyd in die rigting waar opgaarplekke van rus en genoegdoening gevind kan word.
Glo maar net!