Lüderitzbucht - die hawe in die Karasstreek van Namibia waar die laaste sensus (2023) 17 200 inwoners getel het, het oornag gegroei tot 'n reus aan die kus. Dit is ook nie die einde van die groeifase nie, want soos die storie loop, het die "Bucht" nog baie pyle in sy koker.
Die beskutte hawe waar Bartholomias Dias op 24 Desember 1487 anker gegooi het, was ook nie heelemal onbewoon toe hy nege seemanne daar met sy voorraadskip gelos het om die seeroete om die Kaap verder te verken nie. In sy afwesigheid, sê die skeepsdagboeke, is ses man vermoor en een het aan 'n hartaanval beswyk toe hy sien Dias keer terug na die Angra das Voltas (Bay of Return) soos Dias die baai gedoop het. Iemand het die seemanne vermoor, het die twee oorlewendes vertel en daai iemand was die Khôi...
Toe kom byna niemand weer daar vir nog amper 300 jaar nie en die eerste wat die skrywers weer oor die "Bucht" sê, is dat daar aangedoen is rondom 1768 toe die Britse opname-skip, HSM Nautilus, stukke van Dias se granietkruis daar iewers raakgesien het. Nog byna dertig jaar later het Amerikaanse skepe daar guano op die kus-eilande ontdek om nywerheidsontwikkeling mee te voer.
Daarna, verskyn Aaron de Pass, die Kaapse sakeman in die anale. Hy het die guano-bedryf eksploiteer, daar handel gedryf, vis verwerk en die eerste Europieërs meer permanent daar gevestig. Lüderitzbucht was toe nog bekend as Angra Piquena (Klein Hawe).
Dit was Adolf Lüderitz wat beskou word as die moderne vader van Lüderitzbucht. Van alle plekke op aarde, het die Duitse sakeman tydens 'n sakebesoek aan Amerika van die plek gehoor, en sy gesant, Heinrich Vogelsang, na Angra Piquena gestuur om ondersoek te doen of hy daar 'n Duitse pos kan stig. Hyself het in 1882 steun vir so plan by sy politieke denkgenote in die "heimat" gesoek en, volgens verskeie bronne, was die steun so-so. In alle geval, Vogelsang koop toe 'n plot rondom vandag se Lüderitz. Die stigting en ontwikkeling van die Duitse kolonie aan die weskus van Afrika het sy oomblikke gehad tot diamante daar naby ontdek is.
Om meer presies te wees, August Stauch het op 20 Julie 1908 die mynowerhede op Swakopmund in kennis gestel dat hy diamante in die woestyn naby Lüderitz ontdek het. Dit het 'n toestroming veroorsaak wat, ná die aanvanklike storm- en drangdae, jare en dekades die blink van Lüderitz weggevryf het tot die ontwikkeling van 'n sterk marine-diamantbedryf. Lüderitz se visvelde, diamantbedryf, logistieke waarde en drup-drup toerismesektor moes weer eens hoop en bid vir 'n beter toekomsrigting. Selfs die aflandige ontdekking van 'n sterk aardgasbron in die jare-70 van die vorige eeu was net aanvanklik 'n "wow"-oomblik.
Toe, toe breek groot oomblikke ná die draai van die eeu aan en olie word ontdek. Dis ook 'n lang pad om te loop voor 'n emmer van die swart goud aan wal gebring word, maar dis 'n ontwikkeling in wording. In die Namibiese hoofstad word daaroor gepraat, maar dit het Namibia op die kaart geplaas en almal reis saam na Lüderitz om die nuwe stormloop te ervaar. Sien is mos glo...
Sakemense, toeriste, werksoekers, infrastruktuur-ontwikkelaars, eiendomsagente en nuwe fortuinsoekers sit saans in restaurante en kroeë en praat planne vir nuwe geleenthede wat hulle ruik, maar nog nie mooi in fokus kan sien nie. Nou is daar nog hierdie nuwe "ding" wat die wêreld moet omkeer -groen waterstof - en waarvan Lüderitzbucht meer as genoeg het. Dis nou 'n nuwe wêreld!
Die mooie Lüderitz, met sy skilderagtige hawe, ou koloniale geboue, roemryke geskiedenis en ongelooflike vermoë om homself te herondek, is duidelik die plek om te wees en beslis 'n móét op enige besoeker se "to do" lys.