'n Sjebienbaas van Okongo, tussen Eenhana en Amaundi aan die oostekant van Kwanyamaland was so gereed vir die feestelike stormloop soos Shoprite en Rhani's is, wat weet dat duisende migrasiewerkers nou daagliks vir die somerreses tuis kom.
Frank Bockmühl sê reeds die langafstand bussies kom leeg af uit die Noorde en ry met volvragte mens en hooggepakte sleepwaentjies noord. Dan is die geld mos beter want die busdrywer kan kibbel.
Op Okongo het een sjebienbaas sy sakedroom vir hierdie seisoen agtermekaar gehad. Met 'n krat elk groot biere van die Namibiese Brouerye weerskante aan sy donkie vasgemaak, is hy gereed en as sy voorraadkontrole reg is, loop die donkie soos wat die dollers inkom om die volgende te haal.
Bier moet oral oor n baie breë front in Owamboland beskikbaar wees, want die huistoekommers is dors, hulle het geld en hulle moet gesels oor waar hulle vandaan kom en watter werk hulle doen. Die herbergier haal nou sy beste uit. Selfs 'n haarkapper en 'n man wat kan hare sny met 'n handknipper het werkplek in die ''bosmall''. Daar word ook voorsiening gemaak vir punte waar selfone gelaai kan word. Owambo is nou 'n miernes van kuier, dienste en skoffel.
Ja, skoffel ook want die welkome reën daar bo in die land het die tyd aangekondig vir die plant van muhango wat vinnig en laag groei en steeds 'n oes lewer wat die vroue en kinders laat oorleef. So tussendeur moet die herbergier die biere laat loop.
Dit was altyd die mans wat Desember tuis gekom het en hulle verdiende geld in die "village" kom uitgee het. Nou doen die vroue dit ook en drink saam aan 'n bier uit die donkie se saalsakke.
Die kinders en die ou vroue skoffel die lande en só verander die gebruike met net 'n aks elke keer.
lntussen stap die donkie wat Norman Bester met sy waardevolle vrag afgeneem het, geduldig en getrou waar g'n kar in die dik sand kan ry nie. Maar koubier sal ons vat!
Toe ek vir Norman vra of ek sy donkiefoto kan gebruik, se hy: ''Maak die donkie famous. Hy is 'n kampioen."
Net ter verduideliking; in die ou dae toe ek nog in Kwanyamaland rondeloop het om my mense beter te leer ken, het die cucashop-eienaars van bier gepraat as 'n tipiese homebrew, terwyl kou(e)bier van die brouery in Windhoek af gekom het. Waar dit moontlik is, word koubier in n yskas gehou en tradisionele bier met 'n maatbeker onder 'n skaduweeboom uit 'n konka geskep. Die "geleerde" kliënte weet waar om 'n cucashop met koubier te soek.
En só sal Namibia die nuwe jaar ingaan deur die skadu's van die jaar wat nou wegraak agter almal. Met 'n drinkding in die hand sal die slim stedelike besoekers vir die agterblyers opdragte gee en beloftes maak voor hulle terug stad toe gaan. Die Owambo-ekonomie werk maar só. 'n Vet muhango-oes beteken die gasie wat huis toe gestuur word is minder en vis in die shona's is die jaarlikse bonus. As Norman se donkie genoeg kratte bier kan aandra, rol die ekonomie.
Die berigte van reën uit Okongo se wêreld vertel van 'n goeie jaar wat voorlê.