Padlangs Namibia

Heldedag se sirkelstorie

Written by Gert Jacobie | Sep 3, 2024 10:00:00 PM
Op 26 Augustus het Namibia 'n massiewe fees gevier om die land se helde te vereer. Die geleentheid is in Omuthiya, die hoofsetel van die Oshikoto-streek, gehou, kompleet met hogere besoekers, die president en die volgende presidentskandidaat, me. Netumbu Nandi-Ndeitwa, as gassprekers. Daar was soldate op parade en dan was daar veterane van die vryheidstryd. Die stories van oorwinnings, dapperheid, swaarkry en vasberadenheid is daar op die stofvlakte van Omuthiya oor en oor aangedik deur soldate van ook al 35 jaar en meer gelede. Die voormalige Weermaghoof, Genl. Martin Shali was daar en ook genl. Charles Namoloh, 'n latere minister. Ou veterane van die stryd.
 
In die gehoor het nog 'n veteraan van die stryd gesit. Chris Jacobie. 'n Genooide gas wat politieke en mediakonsultasie vir die Trustco-groep doen. Maar sy geskiedenis het 'n langer stert. Chris het in 1966, toe die oorlog uitgebreek het, op Ondangwa in 'n skool met 'n enkele klaskamer skool gegaan. Daar was vyf rye bankies in die klas met 'n onderwyserspaar, jong getroudes, wat klas gegee het van Sub A tot Std.3. Ekself was in Std 2. Ons pa was 'n padmaker en saans in die menasie van ons padkamp is gepraat oor die baie polisiemanne, terroriste en oorlog wat dreig.
 
Daar sit Chris toe Maandag saam met PLAN (Swapo se beste in die bos) met 'n Suid-Afikaanse Valskermbataljon embleem breed op sy bors. Hy het 'n punt gemaak en 'n boodskap vir oud-makkers gestuur. Hy het sy punt gemaak dat wanneer oorlog verby is, kan strydende soldate versoen, want individue veg nie teen mekaar nie. Magte veg teen mekaar in opdrag van hul leiers. As die kanonne stil raak en die laaste skote raak weg, moet aan die vrede wat so verkry is, gewerk word.
Omdat Namibiƫrs op die slagveld grootgeword en deur die oorlog daar gewoon het, en les bes, aangehou bydra het tot die Namibia waarin ons vandag woon, verdien elke een van daardie geslag erkenning. Dis die grootmanne van gister se oorloƫ wat moet sorg dat Namibia nie weer as broer teen broer baklei nie.
 
As Groepsredakteur van Democratic Media Holdings tot in 2011, wat Republikein ingesluit het, was Chris se bydrae as politieke skrywer meetbaar in die staatkundige ontwikkeling sedert Onafhanklikwording in 1990. Sy lewe voor die koerantwerk sedert sy skooldae op Ondangwa in 1966 het mos ook 'n invloed gehad oor hoe hy oor oorlog gedink het en hy het oorlogsdrome gehad. Veral om 'n valskermsoldaat te word en om uiteindelik sy opleiding op die proef te stel.
 
Genl. Martin Shali en genl. Charles Namoloh het in hul oorwegegings ander vooruitsigte gehad, maar die feite bly dat twee opponerende kante Maandag op Omuthiya nog 'n geleentheid gehad het om sonder weersin teenoor mekaar oor 'n vergange era te praat en ervaringe uit ruil.
 
Waar strome rowwe waters so lank oor die shona's van Owamboland vier dekades gelede gestroom het, was Heldedag 'n geleentheid om oor die kalmte van die aflope te staar en na deurkomplekke te soek.