Padlangs Namibia

Heeltyd koffietyd

Written by Gert Jacobie | May 2, 2025 10:00:00 PM
Flippie van Bêrend-hulle het ná oom Flip Alberts die plaas aan Bêrend verkoop het, saam Tsumeb toe getrek en omdat hy nooit skool geloop het met dié wat hy seker by geboorte seergekry het, was hy maar net 'n deel van Tsumeb. Ek het hom gereeld op die Hotel Minen se stoep gekry, waar hy alleen by daardie geverfde stoele gesit het met sy hoed op die kop en mense gekyk het. Verder het hy deur die dorp gery en by bekendes koffie gedrink. Daar was nie veel gepraat nie, want Flippie (RIV), se woordeskat was klein.
 
Die kelners by die Minen het vir Flippie 'n beker koffie en 'n jêmbrood aangedra as hy opdaag, sonder dat hy eens gevra het daarvoor en nooit op geld aangedring nie en ek twyfel of Flipman in sy lewe ooit enige begrip van geld gehad het. Gert en Elize, die laastes van daai Alberts-clan boer nou diep in die Kalahari en hulle het laaste wat ek geweet het, nog na Flippie en die tannie omgesien, maar die Albertse van noord van Tsumeb teen die Etosha-grens in na die beste van my wete almal reeds oor die groot rivier heen. Maar hulle was ernstige koffiedrinkers, soos ek ook.
 
'n Koffietafelbyeenkoms, waar ernstig oor die grootste onbenullighede geredekawel kan word, trek my soos 'n rek. Deesdae - in die era ná amptelike kantoorure, met rekenaars, afstand en tegnologie - is die koffietafelkantoor soveel belangriker. Dis 'n ontmoetingsplek en terwyl ons ons slimfone in die hand rondloop, 'n plek van die geregverdigbare leuen. Min koffietafelsitters het nog nie tydens 'n oproep vir iemand gesê; "Ek is in 'n vergadering. Ek bel jou later," nie."
 
Manni Goldbeck loop op die snaakste plekke die snaakste goedjies van belang raak. Hy is alewig op soek na die geskiedenis van iets of iemand en loop nie sommer 'n oudhede- of waenhuisveiling verby nie. Sy superpower is dat hy geskiedenis verstaan en Afrikaans, Duits en Engels kan lees. Hy soek 'n boek, enige een waarvan hy nog nie eens weet nie, maar omdat hy geskiedenis ken, sal hy weet as hy die regte een gekry het waarna hy soek. En soos dit gaan met soekers wat nooit (alles) vind nie (met apologie aan oorle Koos Dup), loop Manni stories raak en dan stuur hy hulle soms vir my aan.
 
Só loop hy toe 'n wisseltrofee by só onbenullige losgoed-veiling/uitverkoping raak. Dis 'n kru besigheid op 'n plank met metaalnaamplaatjies wat wenners uit die jare 1960 aantoon. As jy mooi kyk, sien jy dis 'n koffietafel trofee wat tussen staatamptenare van die regeringstore en die handelaars van Wecke&Voigts verwissel het.
 
Nouja, mens het nie juis matriek wiskunde in hoërgraad nodig om die storie uit te rafel nie. Destyds was handelaars (soos nou nog) altyd op soek na die gans wat goue eiers kon lê en haar nes was beslis in voorsieningstenders vir die ou SWA-administrasie. Elke koshuis, hospitaal, kantoor van die SWAA, die spoorweë, hawens, natuurbewaarder en elke amptenaar het of met 'n direkte kooprekwesisie óf 'n jaartenderdokument rongeloop by sy maters in die plaaslike voorsieningsketting. 'n Bietjie later het die Weermag en Polisie met 'n oorlog bygekom en die verkoooswêreld bietjie uitgebrei.
 
Koffietafel-byeenkomste as 'n markplek van vriende was algemeen. So ontstaan die koffiedrinkery van die Wecke&Voigts en staatsmagasynmense toe en kort daarna die goedige kompetisie oor wie se koffie die beste is. Toe volg die wisseltrofee wat volgens die plaatjies meer kere deur die kommoditeitshandelaars as deur die aankopers gewen is.
In nabetragting verstaan ek dit. Die handelaars het altyd 'n verskeidenheid gehad om te bied en die aankopers se geluk het meer berus op die vermoë van die koffiemaker.
 
Ek kry nie die naam van die Stasiekafee van Windhoek op die trofee nie. Daai koffieplek agter die ou Sokolic-gebou op Paron 1 se koffie, vleispasteitjies en stasiesous was die heel beste.