Ek wil reisigers wat Namibie besoek waarsku om nie op hulle reisie vervelig te raak en dalk te waag om iewers hare te sny as hulle moet wag vir 'n voertuig wat aandag nodig het of so-iets nie. Ons land het beter plekke om te besoek. Los die haarsny vir wanneer jy tuis by jou getroue haarkapper kan kom. My oorle vriend van Coca Cola, René Vogel, het nie verniet gesê die verskil tussen 'n goeie en 'n slegte haarsny is net veertien dae vir 'n man met hare... vir bleskoppe is een foutjie 'n leeftyd sonder hare.
DIe foto wat Manni Goldbeck vir my aangestuur het, het my aangegryp en my in my kop laat terugblaai na goed 65 x 10 haarsnye in my lewe. Dit was my stiefpa se werk om ons hare te sny kleintyd - altyd borselkop - en toe ons groter word en stil op die plank in Hank Swarts se barbierwinkel kon sit, was dit sy werk om dit met spesiale geleenthede te doen. Spesiaal beteken as daar geld daarvoor was, anders was dit maar weer ou Lourens se werk met die elektiese knipper wat onder in die laaikas gehou is. Daai jare was 'n haarsny vir 'n seuntjie niks meer werd as 45 sent nie, nou is dit maklik N$200... praat van inflasie! My bos rooi hare groei nou nog welig op my kop wat net onder die dik vel en dun skedel so goed bemes is met die stront wat in my kop versamel as ek so baie dink
EK het een keer op Walvisbaai my hare by 'n rooikop-barbier met sulke slap gewriggies laat sny en toe ek vra hy moet my snor ook sny, weier hy. "Ek doen nie snorte nie," reken hy toe. Terug in Windoek skryf ek 'n weeklikse stoeprubriek in die Afrikaanse dagblad daaroor en mors so bietjie met die ou wat eintlik 'n vrouehaarkapper is. Hy het my gebel en my vasgetrap en ek het hom uitgelag. Toe bel hy my (vroue) baas om te kla en dit was amper groot moeilikheid.
Op 'n ander slag ry ek en vriend in die Noorde met 'n werkbesoek daar in die ongewing van Eenhana. Daar was destyds nie oral krag nie en 'n man moes weet waar jy koue bier kon koop omdat die eienaar 'n parafien vrieskas gehad het. Dit was nie lank na die oorlog nie en die winkels van Eenhana was maar algar net Cuca-shops. Ons het by 'n Cuca-kompleks gestop vir 'n koue bier en in 'n potskiet (pool) spelery betrokke geraak en toe ons weer sien, toe speel ons as die Boere teen Swapo en die verloorders se hare moet gesny word. My spanmaat, Andre Smit, het nie hare gehad nie en met sy handknippery het dit maklik gegaan. My kop is versnipper en ek is vol bier en met kêp daar weg. Ons het vir die Swapo-span se haarsny ook betaal.
My gesteldheid op haresny is steeds nie manies nie. As ek parkeerplek naby 'n salon kry sny ek sommer net daar. Dis hoe ek by 'n salon uitgekom het waar vier vroue met tatoe's op hulle voorarms die snywerk doen. Ek vermoed hulle maatskappy is al in die Windhoekse Gevangenes bedink en gestig. Hulle skinder met my (as ou koerantman) soos vinke, praat lelik met mekaar en sny my hare soos hulle wil. Ek lyk elke meer soos Justin Bieber of Bart Simpson as ek daar uitstap. Dis nogal die een met die dik voorarms, growwe stem en die tatoëermerk wat lyk soos 'n traan onder die hoek van haar regteroog wat altyd dêps om my hare te sny. Dalk daag sy my uit.
Maar hulle weet nie wat ons weet nie... 'n slegte haarsny is net twee weke ongemaklik.